Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 12:17-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

17. Die woord van die Here het tot my gekom:

18. “Mens, jy moet jou kos al bewende eet en jou water met ontsteltenis en met kommer drink.

19. En jy moet vir die burgers van die land sê: So sê die Here my God vir die inwoners van Jerusalem, vir die land Israel: Hulle sal hulle kos met kommer eet en hulle water met huiwering drink, want die land sal gestroop word van alles wat daarin is omdat almal wat daar gewoon het, soveel geweld gepleeg het.

20. Die stede wat bewoon is, sal puinhope word en die land sal verlate wees. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.”

21. Die woord van die Here het tot my gekom:

22. “Mens, wat se spreekwoord is dit wat julle oor die land Israel het? Julle sê: ‘Die tyd gaan verby en daar kom niks van al die gesigte nie.’

23. Sê vir hulle: So sê die Here my God: Ek maak 'n end aan dié spreekwoord. Hulle sal hom nie weer in Israel gebruik nie. Sê vir hulle: Die tyd kom vinnig nader en so ook die vervulling van elke gesig.

24. Daar sal nie meer vertel word van gesigte wat nie daar was nie, en daar sal nie meer gladde waarsêerpraatjies onder Israel wees nie.

25. Ek, die Here, sê wat Ek sê, en dit gebeur en word nie meer uitgestel nie. In julle tyd, weerbarstige volk, sê Ek dit, en Ek sal dit doen,” sê die Here my God.

26. Die woord van die Here het tot my gekom:

27. “Mens, die Israeliete sê: ‘Dié gesig wat hy sien, gaan oor lang tye, hy kondig dinge aan vir die verre toekoms.’

28. Sê vir hulle: So sê die Here my God: Niks van wat Ek gesê het, sal meer uitgestel word nie. Wat Ek gesê het, sal nou gebeur,” sê die Here my God.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 12