Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 1:20-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

20. Waarheen die Gees ook al wou, het hulle beweeg, en die wiele het saam opgestyg, want die wesens se gees was in die wiele.

21. Wanneer die wesens beweeg, beweeg die wiele; wanneer die wesens staan, staan die wiele; wanneer die wesens van die grond af opstyg, styg die wiele saam op, want die wesens se gees was in die wiele.

22. Bokant die wesens se koppe was iets wat gelyk het soos 'n gewelf, blink en skrikwekkend soos 'n ysberg. Die gewelf was bokant hulle koppe oopgespan.

23. Onderkant die gewelf het hulle vlerke gestrek, die een teen die ander, en elkeen het met twee vlerke sy lyf bedek.

24. Ek het die geruis van hulle vlerke gehoor. Wanneer hulle beweeg, was dit soos die geruis van 'n sterk waterstroom, soos die stem van die Almagtige, soos die gedruis van 'n menigte mense bymekaar, soos die gedreun van 'n leërmag. Wanneer hulle tot stilstand kom, het hulle hulle vlerke laat sak.

25. Daar het 'n stem gekom van bokant die gewelf bo die wesens se koppe af. Hulle het hulle vlerke laat sak wanneer hulle tot stilstand kom.

26. Bokant die gewelf bo hulle koppe was daar iets soos saffier met die vorm van 'n troon, en daarop was 'n gestalte met die voorkoms van 'n mens, hoog daarbo.

27. Van wat gelyk het na sy heupe, daarvandaan boontoe, het dit vir my gelyk na die glans van gloeiende wit metaal, na iets soos vuur met 'n rand rondom, en van wat gelyk het na sy heupe, daarvandaan ondertoe, het dit vir my gelyk na vuur met 'n helder glans rondom.

28. Die glans rondom was soos dié van die reënboog in 'n wolk na die reën. Dit was soos die magtige verskyning van die Here. Toe ek dit sien, val ek plat en ek hoor 'n stem praat.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 1