Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 4:13-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. Maar Moses antwoord: “Asseblief tog, Here, stuur liewer iemand anders.”

14. Toe word die Here kwaad vir Moses en sê: “Aäron die Leviet is mos jou broer, en Ek weet hy kan sy woord goed doen. Hy is al op pad om jou te ontmoet en hy sal bly wees om jou weer te sien.

15. Praat met hom en sê vir hom wat om te sê. Ek sal by jou wees as jy praat en by hom as hy praat en Ek sal julle leer wat om te doen.

16. Wanneer hy namens jou met die volk praat, is hy jou segsman en jy die een wat hom sy opdragte gee.

17. Hou nou die kierie waarmee jy die tekens moet gaan doen, by jou.”

18. Daarna het Moses na sy skoonpa Jetro toe teruggegaan en vir hom gesê: “Ek wil graag teruggaan na my mense toe in Egipte om te sien hoe dit met hulle gaan.”Jetro antwoord hom: “Gaan gerus.”

19. In Midian het die Here aan Moses gesê: “Gaan nou terug na Egipte toe, want al die mense wat jou wou doodmaak, is al dood.”

20. Toe is Moses met sy vrou en kinders na Egipte toe. Hy het sy vrou en kinders op 'n donkie laat ry en die kierie wat God hom gegee het, saamgevat.

21. Die Here het vir Moses gesê: “Wanneer jy teruggaan Egipte toe, moet jy sorg dat jy al die wonderwerke waartoe Ek jou in staat gestel het, voor die farao doen. Maar Ek sal hom hardkoppig maak, en hy sal die volk nie laat gaan nie.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 4