Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 32:9-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Verder het die Here vir Moses gesê: “Ek het gesien dat dit 'n opstandige volk is hierdie.

10. Moet My nie probeer keer nie. Ek is toornig op my volk en Ek wil hulle vernietig. Vir jou sal Ek dan tot 'n groot nasie maak.”

11. Maar Moses het by die Here sy God gepleit en gesê: “Here, waarom is U toornig op u volk vir wie U deur u groot mag en met kragtige dade uit Egipte bevry het?

12. Waarom moet die Egiptenaars kan sê: ‘Hy het die Israeliete bevry met die bose plan om hulle tussen die berge dood te maak en hulle heeltemal te vernietig’?“Laat u toorn bedaar en wees u volk genadig. Moet tog nie dié ramp oor hulle laat kom nie.

13. Dink aan wat U met 'n eed beloof het aan u dienaars, aan Abraham, Isak en Israel toe U vir hulle gesê het: Ek sal julle nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel. Die hele landstreek wat Ek belowe het, sal Ek vir julle nageslag gee om vir altyd in besit te neem.”

14. Toe het die Here daarvan afgesien om die ramp waarvan Hy gepraat het, oor sy volk te bring.

15. Daarna het Moses omgedraai en van die berg af gegaan met die twee plat klippe waarop die getuienis was, in sy hand. Aan weerskante was daar op hulle geskryf,

16. en dit was die werk van God. Dit was 'n inskripsie wat deur God op die klippe gegraveer is.

17. Toe Josua die volk hoor lawaai, sê hy vir Moses: “Daar is oorlog in die kamp!”

18. Maar Moses het gesê:“Dit klink nie na oorwinning nie,dit klink nie na neerlaag nie,wat ek hoor, klink na feesviering.”

19. Toe Moses naby die kamp kom en die kalf en die dansery sien, het hy woedend geword en die twee plat klippe in sy hand flenters gegooi teen die voet van die berg.

20. Daarna vat hy die kalf wat hulle gemaak het, gooi dit in die vuur, maal dit fyn soos stof en strooi dit op die water. Toe laat hy die Israeliete die water drink.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 32