Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 28:31-43 Afrikaans 1983 (AFR83)

31. “Jy moet die mantel wat saam met die skouerkleed gedra word, as een stuk blou wolstof weef.

32. In sy middel moet daar 'n opening vir die kop wees, die gat moet omgeboor wees, sterk soos 'n pantserhemp, dat dit nie kan skeur nie.

33. Rondom die some moet jy granaatjies van blou, pers en bloedrooi wolstof maak met goue klokkies tussenin,

34. afwisselend 'n goue klokkie en 'n granaatjie rondom die hele soom van die mantel.

35. Aäron moet dit dra as hy diens doen. Wanneer hy in die heiligdom na My toe ingaan en as hy daarvandaan uitkom, sal die geluid van die klokkies gehoor word, en dan sal hy nie sterf nie.

36. “Jy moet 'n blom van suiwer goud maak en daarop, soos op 'n seëlring, graveer: Aan Die Here Gewy.

37. “Jy moet dit met 'n blou toutjie aan die tulband vasmaak. Dit moet aan die voorkant van die tulband wees.

38. Dit moet op Aäron se voorkop wees as teken dat hy aanspreeklik is vir elke ontwyding van die offers deur Israel. Die blom moet gedurig op Aäron se voorkop wees as teken dat Ek, die Here, die Israeliete goedgesind is.

39. “Jy moet vir Aäron die priesterklere van linne weef en jy moet vir hom 'n tulband van linne en 'n geborduurde serp maak.

40. Vir elkeen van sy seuns moet jy 'n stel priesterklere en 'n serp maak. Jy moet vir hulle kopdoeke maak wat waardig en mooi is.

41. “Laat jou broer Aäron en sy seuns hierdie klere aantrek. Salf hulle, wy hulle en reinig hulle om vir My as priesters diens te doen.

42. Jy moet vir hulle linnebroeke maak om hulle naaktheid te bedek. Die broeke moet van die heupe af tot by die bobene strek.

43. Aäron en sy seuns moet dit aanhê as hulle in die tent van ontmoeting ingaan of as hulle na die altaar toe kom om diens in die heiligdom te doen, want anders sal hulle 'n oortreding begaan en sterf. Dit is 'n vaste voorskrif vir hulle en ook vir dié wat ná hulle kom.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 28