Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 14:6-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. Die farao het sy strydwa laat inspan en sy leër saam met hom gevat.

7. Hy het sy ses honderd beste strydwaens gevat, asook al die ander Egiptiese strydwaens, elkeen met 'n bemanning van drie.

8. Die Here het die farao, die koning van Egipte, koppig gemaak sodat hy die Israeliete agtervolg het, maar die Israeliete het onder die beskerming van God verder getrek.

9. Die Egiptenaars het hulle agtervolg, en al die strydwaens van die farao met bemanning en leërmag het hulle ingehaal terwyl hulle besig was om by die see kamp op te slaan, naby Pi-Hagirot regoor Baäl-Sefon.

10. Toe die farao nader kom, sien die Israeliete skielik die Egiptenaars sit hulle agterna. Hulle het baie bang geword en benoud na die Here geroep.

11. Hulle het vir Moses gesê: “Is daar nie begraafplek in Egipte nie dat jy ons saamsleep om in die woestyn te sterwe? Wat het jy ons aangedoen dat jy ons uit Egipte laat trek het?

12. Ons het jou mos in Egipte gesê om ons te laat staan dat ons vir die Egiptenaars werk. Dit is vir ons beter om vir hulle te werk as om hier in die woestyn om te kom.”

13. Maar Moses het die volk geantwoord: “Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, want soos julle die Egiptenaars nou daar sien, sal julle hulle nooit weer sien nie.

14. Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.”

15. Toe het die Here vir Moses gesê: “Waarom roep julle so benoud na My? Sê vir die Israeliete hulle moet verder trek.

16. En jy, lig jou kierie op en steek jou hand oor die see uit en kloof dit oop sodat die Israeliete op droë grond kan deurgaan.

17. Ek sal die Egiptenaars so koppig maak dat hulle die Israeliete sal agtervolg. So sal Ek my mag laat geld teenoor die farao en sy hele leër: strydwaens en bemanning.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 14