Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 8:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. “Jy moet elke gebod wat ek jou vandag gee, gehoorsaam en daarvolgens lewe. Dan sal jy bly lewe, baie word, die land ingaan en dit in besit neem soos die Here met 'n eed aan jou voorvaders beloof het.

2. “Jy moet onthou hoe die Here jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het. Hy het dit gedoen om jou nederig te laat word en om jou op die proef te stel sodat Hy kan weet wat jy dink en of jy sy gebooie sal gehoorsaam of nie.

3. Hy het jou laat swaarkry, laat honger ly en toe met manna gevoed, iets waarmee nóg jy nóg jou voorvaders bekend was. Hy het dit gedoen om jou te leer dat 'n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom.

4. Jou klere het in die veertig jaar nie verslyt nie, en jou voete het nie geswel nie.

5. Jy moet diep in jou hart weet: soos 'n man dissipline by sy seun kweek, so het die Here jou God vir jou dissipline geleer.

6. “Jy moet die gebooie van die Here jou God gehoorsaam en sy wil doen. Jy moet Hom dien,

7. want Hy sal jou in 'n goeie land bring: 'n land met waterstrome, met fonteine en riviere wat in valleie en berge ontspring,

8. 'n land met koring en gars, wingerde, vyebome en granate, 'n land met volop olyfolie en heuning,

9. 'n land sonder armoede, waarin jy genoeg sal eet en niks sal kortkom nie, 'n land waarin daar volop yster in die klippe is en waar jy kan koper delf in die berge.

10. “Telkens wanneer jy genoeg geëet het, moet jy die Here jou God dank vir hierdie goeie land wat Hy aan jou gegee het.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 8