Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 5:4-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. Ja, met julle persoonlik het die Here op die berg uit die vuur uit gepraat.

5. Ek het destyds tussen die Here en julle gestaan om die gebod van die Here aan julle deur te gee, want julle was bang vir die vuur en julle het nie teen die berg uitgeklim nie.“Die Here het gesê:

6. “ ‘Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.

7. Jy mag naas My geen ander gode hê nie.

8. “ ‘Jy mag nie vir jou 'n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie.

9. Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek die Here jou God eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat,

10. maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.

11. “ ‘Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal dié een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.

12. “ ‘Jy moet die sabbatdag so deurbring dat jy dit heilig hou, soos die Here jou God jou beveel het.

13. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet,

14. maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of jou bees of jou donkie of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie, sodat jou werksmense kan rus soos jy.

15. Jy moet daaraan dink dat jy in Egipte 'n slaaf was en dat die Here jou God jou deur sy groot krag en met magtige dade daaruit bevry het. Daarom het die Here jou God jou beveel om die sabbatdag te onderhou.

16. “ ‘Eer jou vader en jou moeder, soos die Here jou God jou beveel het, dan sal jy 'n lang lewe hê en sal dit goed gaan met jou in die land wat die Here jou God vir jou gee.

17. “ ‘Jy mag nie moord pleeg nie.

18. “ ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.

19. “ ‘Jy mag nie steel nie.

20. “ ‘Jy mag nie vals teen 'n ander getuig nie.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 5