Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 5:21-33 Afrikaans 1983 (AFR83)

21. “ ‘Jy mag nie iemand anders se vrou begeer nie. Jy mag nie sy huis begeer nie, ook nie sy grond, sy slaaf of slavin, sy bees of donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.’

22. “Die Here het by die berg al hierdie gebooie duidelik hoorbaar aan julle hele gemeente gegee, uit die vuur en die stikdonker wolk uit, en toe het Hy stilgebly. Daarna het Hy dit op twee plat klippe geskryf en dit vir my gegee.”

23. “Toe julle die stem uit die donkerte uit gehoor het terwyl die berg gebrand het, het al julle stamhoofde en leiers na my toe gekom

24. en gesê: ‘Die Here ons God het ons sy mag en sy grootheid laat sien, en ons het sy stem uit die vuur uit gehoor. Vandag het ons ondervind dat God met mense praat, en hulle bly lewe.

25. Maar as ons weer die stem van die Here ons God hoor, sal ons sterf, want hierdie groot vuur sal ons verteer. Waarom moet ons die gevaar loop om te sterf?

26. Watter mens het die stem van die lewende God wat uit die vuur uit praat, gehoor soos ons en bly lewe?

27. Gaan jy nader en luister na wat die Here ons God sê, dan kan jy alles wat Hy vir jou sê, vir ons vertel en ons sal dit gehoorsaam en daarvolgens lewe.’

28. “Toe die Here hoor wat julle vir my sê, het Hy vir my gesê: Ek het gehoor wat hierdie volk vir jou gesê het. Wat hulle gesê het, is goed.

29. Mag hulle altyd soveel eerbied vir My hê en al my gebooie gehoorsaam sodat dit altyd goed kan gaan met hulle en hulle nageslag.

30. Gaan sê vir hulle hulle moet teruggaan na hulle tente toe.

31. Maar jy moet hier by My kom staan. Ek wil die hele wet vir jou gee, die voorskrifte en die bepalings wat jy vir hulle moet leer, en waarvolgens hulle moet lewe in die land wat Ek vir hulle gee om te besit.

32. Julle moet nougeset doen wat die Here julle God julle beveel het. Julle moet nie in enige opsig daarvan afwyk nie.

33. Bly op die pad wat die Here julle God vir julle aangewys het, sodat julle kan bly lewe en voorspoedig kan wees en lank kan woon in die land wat julle in besit sal neem.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 5