Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 31:6-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. Hou moed en wees dapper! Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie, want die Here julle God gaan saam met julle. Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie.”

7. Toe het Moses vir Josua geroep en vir hom gesê waar die hele Israel dit kon hoor: “Wees sterk, wees dapper! Jy gaan saam met hierdie volk in die land in wat die Here met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het om aan hulle te gee. Jy moet hulle dit in besit laat neem.

8. Die Here sal voor jou uit gaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie, jou nie alleen laat nie. Moenie bang wees nie, moenie skrik nie.”

9. Moses het toe hierdie wet opgeskryf en dit gegee aan die Levitiese priesters wat die verbondsark van die Here dra, en ook aan al die leiers van Israel.

10. Toe het Moses hulle beveel: “Aan die einde van elke sewende jaar, op die vasgestelde tyd, die jaar waarin julle skuld moet afskryf, op die huttefees,

11. wanneer die hele Israel in die teenwoordigheid van die Here julle God moet verskyn op die plek wat Hy sal kies, moet julle hierdie wet lees in die teenwoordigheid van die hele Israel waar hulle dit kan hoor.

12. Julle moet die volk bymekaarroep: mans, vrouens en kinders, en ook die vreemdeling wat in julle stede by julle woon, sodat hulle kan luister en die wet kan leer, sodat hulle die Here julle God kan dien en gehoorsaam, sodat hulle kan leef volgens alles wat in hierdie wet staan.

13. So sal hulle kinders wat nie hierdie wet ken nie, dit kan hoor en leer en sal hulle die Here julle God kan dien so lank as julle lewe in die land waarheen julle deur die Jordaan trek om dit in besit te gaan neem.”

14. Die Here het vir Moses gesê: “Jou tyd om te sterf, het aangebreek. Roep vir Josua en gaan staan in die tent van ontmoeting sodat Ek hom sy bevele kan gee.”Moses en Josua het toe in die tent van ontmoeting gaan staan,

15. en die Here het daar verskyn in 'n wolkkolom, 'n wolkkolom wat by die tentdeur bly hang het.

16. Toe sê die Here vir Moses: “Jy gaan nou sterf. Daarna sal hierdie volk ontrou word en in die land waar hy gaan woon, die vreemde gode van die land aanhang. Die volk sal My verlaat en die verbond verbreek wat Ek met hom gesluit het.

17. Dan sal my toorn teen hom ontvlam en Ek sal hulle verlaat en van hulle af weggaan. Ek sal nie aan hulle verskyn nie en die volk sal te gronde gaan. Baie plae en rampe sal hom tref, en dan sal hy sê: ‘Hierdie plae tref my omdat my God nie by my is nie.’

18. Maar ook dan sal Ek nie aan hom verskyn nie, want hy het al hierdie verkeerde dinge gedoen en ander gode gaan dien.

19. “Teken hierdie lied vir julle op en leer dit vir die Israeliete. Laat hulle dit sing sodat die lied my getuie teen hulle kan wees.

20. Wanneer Ek vir Israel gebring het in die land wat Ek aan sy voorvaders met 'n eed beloof het, die land wat oorloop van melk en heuning, sal Israel genoeg eet en lekker lewe en dan sal hy ander gode aanhang en hulle dien. Hulle sal My minag en my verbond verbreek.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 31