Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 31:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Moses het met die hele Israel gaan praat

2. en vir hulle gesê: “Ek is nou honderd en twintig jaar oud, ek kan nie meer gaan oorlog maak nie. Die Here het vir my gesê: ‘Jy mag nie deur die Jordaan trek nie.’

3. Die Here julle God sal voor julle uit deur die Jordaan trek en Hy sal hierdie nasies voor julle uitroei sodat julle hulle gebied in besit sal neem. Josua sal julle deurlei, soos die Here beloof het.

4. Die Here sal met hierdie nasies doen soos Hy gedoen het met die Amoritiese konings Sihon en Og en met hulle land toe Hy hulle uitgeroei het.

5. Die Here sal hierdie nasies in julle mag oorgee, en julle moet met hulle alles doen wat ek julle beveel het.

6. Hou moed en wees dapper! Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie, want die Here julle God gaan saam met julle. Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie.”

7. Toe het Moses vir Josua geroep en vir hom gesê waar die hele Israel dit kon hoor: “Wees sterk, wees dapper! Jy gaan saam met hierdie volk in die land in wat die Here met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het om aan hulle te gee. Jy moet hulle dit in besit laat neem.

8. Die Here sal voor jou uit gaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie, jou nie alleen laat nie. Moenie bang wees nie, moenie skrik nie.”

9. Moses het toe hierdie wet opgeskryf en dit gegee aan die Levitiese priesters wat die verbondsark van die Here dra, en ook aan al die leiers van Israel.

10. Toe het Moses hulle beveel: “Aan die einde van elke sewende jaar, op die vasgestelde tyd, die jaar waarin julle skuld moet afskryf, op die huttefees,

11. wanneer die hele Israel in die teenwoordigheid van die Here julle God moet verskyn op die plek wat Hy sal kies, moet julle hierdie wet lees in die teenwoordigheid van die hele Israel waar hulle dit kan hoor.

12. Julle moet die volk bymekaarroep: mans, vrouens en kinders, en ook die vreemdeling wat in julle stede by julle woon, sodat hulle kan luister en die wet kan leer, sodat hulle die Here julle God kan dien en gehoorsaam, sodat hulle kan leef volgens alles wat in hierdie wet staan.

13. So sal hulle kinders wat nie hierdie wet ken nie, dit kan hoor en leer en sal hulle die Here julle God kan dien so lank as julle lewe in die land waarheen julle deur die Jordaan trek om dit in besit te gaan neem.”

14. Die Here het vir Moses gesê: “Jou tyd om te sterf, het aangebreek. Roep vir Josua en gaan staan in die tent van ontmoeting sodat Ek hom sy bevele kan gee.”Moses en Josua het toe in die tent van ontmoeting gaan staan,

15. en die Here het daar verskyn in 'n wolkkolom, 'n wolkkolom wat by die tentdeur bly hang het.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 31