Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 3:11-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. Net koning Og van Basan het destyds nog van die Refaïete oorgebly. Sy bed was van yster. Dit was sowat vier meter lank en amper twee meter breed, en is nou nog te sien in Rabba van die Ammoniete.

12. “Ek het die gebied wat ons destyds verower het, van Aroër op die Arnonoewer af tot halfpad in die bergwêreld van Gilead en al die stede daarin, aan die stamme Ruben en Gad gegee.

13. Die res van Gilead en die hele Basan, die vroeëre ryk van Og, het ek aan die halwe Manassestam gegee. Dit is die hele Argobgebied in Basan wat voorheen bekend was as die Refaïete se land.

14. Jaïr uit die nageslag van Manasse het die Argobstreek gevat tot by die grens van Gesur en Maäkat. Basan is toe na Jaïr vernoem, en dit staan nou nog bekend as die tentdorpe van Jaïr.

15. Ek het Gilead vir Makir gegee.

16. Ek het die gebied van Gilead af tot in die middel van die Arnonbedding vir die stamme Ruben en Gad gegee. Hulle noordgrens was Jabbokspruit, die grens van die Ammoniete se land,

17. en die wesgrens was die Jordaanvallei en die Jordaanrivier van Gennesaret af tot by die see in die Jordaanvallei, die Soutsee, onderkant die Pisgahange net oos van die see.

18. “Ek het destyds vir die drie stamme gesê: Die Here julle God het hierdie land vir julle gegee as julle besitting. Maar julle gewapende manne, elke weerbare man, moet die Jordaan oorsteek voor julle volksgenote uit.

19. Net julle vrouens en kinders en vee, en ek weet julle het baie vee, mag agterbly in die stede wat ek vir julle gegee het.

20. Julle moet saam met julle volksgenote trek totdat die Here ook aan hulle, soos aan julle, 'n veilige woonplek gegee het, en ook húlle die land wat die Here julle God vir hulle sal gee, die land wes van die Jordaan, in besit geneem het.”

21. “Ek het destyds vir Josua gesê: ‘Jou twee oë het nou alles gesien wat die Here julle God met daardie twee konings gedoen het. So sal die Here doen met al die koninkryke waarnatoe jy nou gaan deurtrek.

22. Moenie vir hulle bang wees nie. Die Here julle God sal vir julle veg.’

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 3