Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 29:15-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

15. Hy sluit die verbond met almal wat vandag hier saam met ons voor Hom, die Here ons God staan, maar ook met hulle wat nie vandag hier saam met ons is nie.

16. Julle weet hoe ons in Egipte gewoon het en hoe ons tussen die nasies deurgetrek het, en hoe julle waar julle verbygetrek het,

17. hulle afskuwelike afgodsbeelde van hout en klip, van silwer en goud by hulle gesien het.

18. Pas op dat daar nie dalk onder julle 'n man of 'n vrou, 'n familie of 'n stam is wat vandag afvallig word van die Here ons God en die gode van daardie nasies gaan dien nie. As daar so iemand is, so 'n gifwortel wat alles kan vergiftig,

19. kan hy homself dalk probeer gerusstel wanneer hy hierdie woorde hoor, en kan hy dalk sê: ‘Ek is veilig al volg ek my eie harde kop.’ Maar dit sal lei tot ellende en swaarkry,

20. want die Here sal nie so iemand wil vergewe nie. Die toorn, die verontwaardiging van die Here, sal teen so iemand ontbrand en elke vloek wat in hierdie boek opgeteken is, sal hom tref. Die Here sal die herinnering aan so iemand van die aarde af wegvee.

21. Die Here sal hom van die ander stamme van Israel afsonder sodat rampe hom kan tref ooreenkomstig die verbond wat met 'n eed gesluit en in hierdie wet opgeteken is.

22. “Wanneer die nageslag, julle kinders wat ná julle kom, en vreemdes wat van ver af kom, die plae in hierdie land sien en ook die siektes wat deur die Here daarin gebring word, sal hulle sê:

23. ‘Die hele land is verbrand, dis swael en sout! Niemand saai daar nie, daar groei niks, daar kom nie eers 'n groenigheid op nie. Dit is verwoes soos Sodom en Gomorra, soos Adma en Sebojim wat deur die Here in sy gloeiende toorn verwoes is.’

24. “Dan sal al die nasies vra: ‘Waarom het die Here dit met hierdie land gedoen? Waarom het hierdie groot toorn ontvlam?’

25. Dan sal die antwoord wees: ‘Omdat die mense van hierdie land die verbond verbreek het wat die Here die God van hulle voorvaders met hulle gesluit het toe Hy hulle uit Egipte laat wegtrek het.

26. Hulle het ander gode gaan dien en vereer, gode wat onbekend was aan hulle en nie vir hulle bestem was nie.

27. Daarom het die toorn van die Here teen hierdie land ontvlam en het Hy al die strawwe wat in hierdie boek opgeteken is, oor die land gebring.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 29