Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 24:9-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Jy moet onthou wat die Here jou God vir Mirjam aangedoen het toe julle uit Egipte weggetrek het.

10. “Wanneer jy iets aan jou buurman leen, mag jy nie in sy huis ingaan om iets as pand te gaan vat nie.

11. Jy moet buite staan en die man aan wie jy geleen het, moet vir jou die pand uitbring buite toe.

12. As die man arm is, moet jy nie die pand ná slaaptyd hou nie.

13. Jy moet die pand teruggee wanneer die son ondergaan sodat hy onder sy kledingstuk kan slaap. Dan sal hy jou seën, en die Here jou God sal jou optrede goedvind.

14. “Jy mag nie 'n huurling wat arm en behoeftig is, laat swaarkry nie, of hy nou al 'n volksgenoot is of 'n vreemdeling wat by jou woon in een van jou land se stede.

15. Jy moet hom sy loon nog dieselfde dag gee, voor die son ondergaan, want hy is arm en reken op sy loon. As jy dit nie doen nie, sal hy by die Here kla oor jou en sal jy skuldig wees.

16. “Vaders mag nie oor die optrede van kinders en kinders nie oor die optrede van vaders doodgemaak word nie. Elkeen kan net vir sy eie sonde die doodstraf kry.

17. “Jy mag nie die regte van 'n vreemdeling of van 'n weeskind van hulle af wegvat nie. Jy mag nie die klere van 'n weduwee as pand neem nie.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 24