Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 23:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. “Iemand wie se geslagsorgane verbrysel is of iemand wat ontman is, mag nie lid van die gemeente van die Here wees nie.

2. Niemand wat gebore is uit ontoelaatbare geslagsgemeenskap mag lid van die gemeente word nie, selfs nie so 'n persoon se tiende nageslag nie.

3. Geen Ammoniet of Moabiet mag lid van die gemeente word nie. Niemand uit hulle nageslag mag ooit lid van die gemeente word nie, selfs nie eers een van die tiende geslag nie.

4. Dit is omdat hulle jou nie van kos en water voorsien het toe julle uit Egipte getrek het nie en hulle vir Bileam seun van Beor uit Petor in Mesopotamië gehuur het om jou te vervloek.

5. “Die Here jou God wou egter nie na Bileam luister nie en die Here jou God het Bileam se vervloeking in 'n seën verander, want die Here jou God het jou lief.

6. Jy mag nooit in vrede leef met die Ammoniete en die Moabiete nie, en jy mag nooit iets goeds aan hulle doen nie.

7. “Jy mag egter nie 'n Edomiet wegstoot nie, want hy is jou bloedverwant; ook nie 'n Egiptenaar nie, want jy was 'n vreemdeling in sy land.

8. Kinders uit hulle derde geslag mag lid word van die gemeente.”

9. “Wanneer jy optrek teen jou vyande, moet jy oppas dat jy nie iets verkeerds doen nie.

10. As daar iemand by jou is wat nie rein is nie op grond van iets wat in die nag met hom gebeur het, moet hy uit die kamp uit gaan. Hy mag nie in die kamp wees nie.

11. Teen die aand moet hy hom was en na sononder mag hy in die kamp inkom.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 23