Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 11:18-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

18. Hierdie woorde van die Here moet julle lewe vul. Julle moet dit as herinneringsteken vasbind aan julle hande en dit moet 'n merk op julle voorkoppe wees.

19. “Leer dit vir jou kinders deur met hulle daaroor te praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.

20. Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte.

21. Dan sal julle en julle nageslag lank, ja, so lank as die hemel en die aarde sal bestaan, bly woon in die land wat die Here met 'n eed beloof het om aan julle voorvaders te gee.

22. “As julle al hierdie gebooie wat ek julle vandag gee, stiptelik gehoorsaam deur daarvolgens te lewe en die Here julle God lief te hê, sy wil te doen en Hom aan te hang,

23. sal Hy al hierdie nasies verdryf, en dan sal julle die grondgebied van nasies wat groter en sterker is as julle, in besit neem.

24. Elke plek waar julle kom, sal julle s'n wees: van die woestyn in die suide af tot by Libanonberg in die noorde, van die rivier, die Eufraatrivier, in die ooste af tot by die see in die weste. Dit sal julle grense wees.

25. Niemand sal teen julle kan bly staan nie. Soos die Here beloof het, sal Hy orals waar julle gaan, 'n skrik en angs vir julle oor die land laat kom.

26. Let op, ek hou julle vandag die seën en die straf voor:

27. die seën sal kom as julle die gebooie van die Here julle God gehoorsaam, wat ek julle vandag gee;

28. die straf sal kom as julle ongehoorsaam is aan die gebooie van die Here julle God en die pad verlaat wat ek julle vandag aangewys het en ander gode aanhang waarvan julle nou nog nie eers weet nie.

29. Wanneer die Here julle God julle bring in die land wat julle in besit gaan neem, moet julle die seën afkondig op Gerisimberg en die straf op Ebalberg.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 11