Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 6:14-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. Toe sê hulle vir die koning: “Maar Daniël, een van die Joodse ballinge, steur hom nie aan u bevel en aan die dekreet wat u uitgevaardig het nie, U Majesteit! Hy bid nog drie maal per dag tot sy God.”

15. Toe die koning dit hoor, het hy baie sleg gevoel. Hy het 'n plan probeer maak om Daniël te red, en toe die son ondergaan, het hy nog steeds geprobeer.

16. Toe storm Daniël se vyande weer by die koning in en sê vir hom: “U Majesteit besef seker dat volgens die reg van die Mediërs en Perse geen dekreet of wet wat deur die koning uitgevaardig is, verander mag word nie.”

17. Die koning moes toe die bevel gee, en Daniël is gebring en in 'n leeukuil gegooi. Die koning het vir Daniël gesê: “Mag jou God wat jy met soveel volharding dien, jou red.”

18. Daar is 'n klip gebring en op die opening van die leeukuil gesit. Die koning het die opening verseël met sy seëlring en met dié van sy hoofamptenare sodat daar niks aan Daniël se lot verander sou kon word nie.

19. Die koning is na sy paleis toe en het 'n slaaplose nag deurgebring; hy het niks geëet nie en het niks gedoen om die tyd te probeer verdryf nie.

20. Die volgende môre vroeg toe dit lig word, het hy opgestaan en is hy haastig na die leeukuil toe.

21. Toe hy naby die leeukuil kom, het hy angstig na Daniël geroep en vir hom gevra: “Daniël, dienaar van die lewende God, was jou God wat jy met soveel volharding dien, in staat om jou van die leeus te red?”

22. Toe antwoord Daniël: “Mag die koning baie lank lewe!

23. My God het sy engel gestuur om die bekke van die leeus toe te sluit sodat hulle my niks kon aandoen nie, want Hy het bevind dat ek nie teen Hom oortree het nie. Ook teenoor u het ek niks verkeerds gedoen nie, U Majesteit.”

24. Die koning was baie bly en het beveel dat Daniël uit die leeukuil gehaal moes word. Toe Daniël uit die leeukuil gehaal is, was daar geen letsel aan hom nie, omdat hy op sy God vertrou het.

25. Op bevel van die koning is die mense wat vir Daniël verkla het, gebring en in die leeukuil gegooi saam met hulle kinders en hulle vrouens. Hulle het nog nie in die leeukuil grond gevat nie of die leeus was op hulle en het hulle verskeur.

26. Koning Darius het toe aan al die volke, nasies en taalgroepe wat oor die hele wêreld gewoon het, 'n skrywe gerig: “Voorspoed!

27. Ek gee hiermee opdrag dat in my hele koninkryk die God van Daniël gevrees en geëer moet word.“Hy is die lewende God, Hy bestaan vir ewig;sy koninkryk sal nie vernietig word nie,sy heerskappy sal nooit eindig nie.

28. Hy red en bevry,Hy doen tekens en wondersin die hemel en op die aarde;Hy het Daniël uit die kloue van die leeus gered.”

29. Dit het goed gegaan met Daniël gedurende die regering van Darius en die regering van Kores die Pers.

Lees volledige hoofstuk Daniël 6