Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 4:13-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. “Toe ek nog so kyk, terwyl ek in my slaap die visioen sien, kom daar 'n wag, 'n engel, uit die hemel uit af.

14. Hy het hard geroep:“ ‘Kap af die boom, kap af sy takke,stroop af sy blare en gooi weg sy vrugte.Die wilde diere moet onder hom uit wegvlugen die voëls uit sy takke uit.

15. Maar bind 'n yster- en 'n bronsband om sy stompen laat dit in die grond bly saam met die gras in die veld.Nebukadnesar moet snags deur die dou natgemaak worden van plante leef saam met die wilde diere.

16. Sy verstand moet anders word as dié van 'n mens,hy moet die verstand van 'n dier kry.Dit moet sewe tydperke lank oor hom kom.

17. “ ‘Hierdie aankondiging berus op 'n besluit van dié wat wag hou, die engele, en hulle maak hierdie beslissings bekend. So sal alle mense weet dat die Allerhoogste mag het oor al die koninkryke op aarde en dat Hy dit gee aan wie Hy wil; Hy stel selfs die onbelangrikste mens daaroor aan.’

18. “Dit is die droom wat ek, koning Nebukadnesar, gehad het. Lê dit nou vir my uit, Beltsasar, want geen raadgewer in my koninkryk is in staat om dit vir my uit te lê nie. Jy is daartoe in staat, want die gees van die heilige gode is in jou.”

19. Toe het Daniël, ook genoem Beltsasar, 'n oomblik verstom gestaan, verbyster deur sy gedagtes. Die koning het vir hom gesê: “Moenie dat die droom en sy uitleg jou ontstel nie, Beltsasar.”Beltsasar het geantwoord: “U Majesteit, het die droom maar eerder op u vyande geslaan, die uitleg op u teëstanders!

20. Die boom wat u gesien het, wat so groot en sterk geword het dat sy top aan die hemel geraak het, en wat oral op die aarde sigbaar was,

21. waarvan die blare mooi en die vrugte groot was en waaraan daar genoeg kos was vir die hele wêreld, waaronder die wilde diere gebly en in wie se takke die voëls nes gemaak het,

22. die boom is u, U Majesteit. U het groot en sterk geword, u grootheid raak selfs aan die hemel, u mag strek oor die hele aarde.

23. U Majesteit het 'n wag, 'n engel, uit die hemel uit sien afkom, en hy het gesê: ‘Kap af die boom en verwoes dit, maar bind 'n yster- en 'n bronsband om sy stomp en laat dit in die grond bly saam met die gras in die veld. Nebukadnesar moet snags deur die dou natgemaak word en van plante leef saam met die wilde diere. Dit moet sewe tydperke lank oor hom kom.’

24. “Dit is die uitleg, U Majesteit, dit is die besluit van die Allerhoogste oor u:

25. U sal uit die menslike samelewing uitgestoot word en saam met die wilde diere moet leef. U sal moet gras eet soos beeste en u sal snags deur die dou natgemaak word. Dit sal sewe tydperke lank oor u kom. Dan sal u moet erken dat die Allerhoogste mag het oor al die koninkryke op aarde en dit gee aan wie Hy wil.

26. Die bevel dat die boom se stomp in die grond moet bly, beteken dat u koningskap herstel sal word sodra u erken dat die Hemel regeer.

Lees volledige hoofstuk Daniël 4