Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 1:9-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. God het die hoofpaleisbeampte gunstig en simpatiek gestem teenoor Daniël.

10. Maar hy het vir Daniël gesê: “Ek is bang vir die koning. Hy het bepaal wat julle moet eet en drink en as hy sien julle voorkoms is nie so goed soos dié van die ander jongmanne van julle ouderdom nie, is ek oor julle in die moeilikheid by hom.”

11. Toe sê Daniël vir die amptenaar wat deur die hoofpaleisbeampte aangestel is om toesig te hou oor Daniël, Gananja, Misael en Asarja:

12. “Maak asseblief tien dae lank 'n proefneming met ons en laat hulle vir ons net groente gee om te eet en water om te drink.

13. Vergelyk dan ons voorkoms met dié van die jongmanne wat van die koning se kos eet, en handel dan met ons na bevind van sake.”

14. Die amptenaar het toe hulle versoek toegestaan en tien dae lank 'n proefneming met hulle gemaak.

15. Ná tien dae het hulle mooier en gesonder daar uitgesien as die jongmanne wat van die koning se kos geëet het.

16. Toe het die amptenaar die koning se kos en wyn vir goed van hulle af weggehou en vir hulle net groente gegee.

17. God het aan hierdie vier jongmanne verstand gegee en insig in alles wat geskryf is, en ook wysheid. Daniël kon enige gesig of droom uitlê.

18. Op die tyd wat koning Nebukadnesar bepaal het dat die jongmanne voor hom gebring word, het die hoofpaleisbeampte dit gedoen.

19. Die koning het met hulle gepraat en hy het onder almal niemand gevind soos Daniël, Gananja, Misael en Asarja nie. Toe het hulle in diens van die koning getree.

20. In enige saak wat wysheid en insig vereis het en waaroor die koning hulle uitgevra het, was hulle tien maal beter as al die towenaars en voorspellers in sy hele koninkryk.

21. Daniël het in diens van die paleis gebly tot die eerste regeringsjaar van koning Kores.

Lees volledige hoofstuk Daniël 1