Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 1:4-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. Die jongmanne moes sonder liggaamsgebrek wees, mooi, toegerus met kennis, verstandig, bekwaam en in staat om in die paleis diens te doen. Hulle moes onderrig word in die Galdeërs se skrif en taal.

5. Die koning het bepaal dat hulle 'n daaglikse porsie van sy kos en wyn moet ontvang en dat hulle drie jaar lank opgelei moet word. Daarna moet hulle in diens van die koning tree.

6. Onder hierdie Judeërs was daar Daniël, Gananja, Misael en Asarja,

7. maar die hoofpaleisbeampte het vir hulle ander name gegee: Daniël is Beltsasar genoem, Gananja Sadrag, Misael Mesag en Asarja Abednego.

8. Daniël het hom voorgeneem om hom nie met die koning se kos en wyn te verontreinig nie en hy het die hoofpaleisbeampte vergunning gevra om dit nie te gebruik nie.

9. God het die hoofpaleisbeampte gunstig en simpatiek gestem teenoor Daniël.

10. Maar hy het vir Daniël gesê: “Ek is bang vir die koning. Hy het bepaal wat julle moet eet en drink en as hy sien julle voorkoms is nie so goed soos dié van die ander jongmanne van julle ouderdom nie, is ek oor julle in die moeilikheid by hom.”

11. Toe sê Daniël vir die amptenaar wat deur die hoofpaleisbeampte aangestel is om toesig te hou oor Daniël, Gananja, Misael en Asarja:

12. “Maak asseblief tien dae lank 'n proefneming met ons en laat hulle vir ons net groente gee om te eet en water om te drink.

Lees volledige hoofstuk Daniël 1