Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 21:10-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Rispa dogter van Aja het toe rouklere gevat en dit vir haar op 'n rots oopgegooi. Van die begin van die oestyd af totdat die reëntyd aangebreek het, het sy bedags die roofvoëls en snags die roofdiere nie aan die lyke laat vreet nie.

11. Toe daar aan Dawid meegedeel is wat Aja se dogter Rispa, 'n byvrou van Saul, gedoen het,

12. het hy die bene van Saul en sy seun Jonatan laat haal by die burgers van Jabes in Gilead. Hulle het dit destyds op die stadsplein van Bet-San gaan steel waar die Filistyne dit opgehang het toe Saul op Gilboa verslaan is.

13. Hy het Saul en sy seun Jonatan se bene daarvandaan laat bring en ook dié van die manne wat op die berg opgehang is

14. en almal by Sela in Benjamin laat begrawe in die graf van Kis, Saul se pa. Alles is gedoen net soos die koning beveel het. Daarna het God weer gebede vir die land verhoor.

15. Daar het oorlog uitgebreek tussen die Filistyne en die Israeliete. Dawid en sy manskappe het teen die Filistyne gaan veg en Dawid het moeg geword.

16. Jisbi van Nob, uit die geslag van die Refaïete, het toe gedink hy kan Dawid sonder moeite doodmaak. Jisbi se bronsspies het byna vier kilogram geweeg, en hy het 'n nuwe uitrusting gehad.

17. Seruja se seun Abisai het Dawid egter gehelp en die Filistyn platgeslaan en doodgemaak. Toe het die manne van Dawid vir hom gesê: “U wat die lamp van Israel is, mag nie meer saam met ons na die oorlog toe uittrek nie, sodat die lamp nie doodgeblaas sal word nie.”

18. Daarna was daar weer oorlog teen die Filistyne in Gob. Daar het Sibbekai uit Gusa vir Sippai uit die geslag van die Refaïete verslaan.

19. In 'n ander geveg teen die Filistyne in Gob het Elganan seun van Jaäre-Oregim van Betlehem vir Goliat die Gattiet doodgemaak. Sy spiessteel was so dik soos die dwarsbalk van 'n weefstoel.

20. Op 'n ander keer was daar oorlog in Gat. Daar was 'n lang man met ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet; saam was dit vier en twintig. Hy was ook 'n Refaïet van geboorte.

21. Hy het die Israeliete getart en toe het Jonatan, seun van Dawid se broer Samma, hom doodgemaak.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 21