Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 2:12-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Abner seun van Ner het met Is-Boset se soldate van Maganajim af na Gibeon toe opgeruk.

13. Joab seun van Seruja het hulle met Dawid se soldate tegemoet getrek en hulle by die Gibeondam gekry. Joab-hulle het aan die een kant van die dam gaan sit, en die ander aan die oorkant.

14. Abner skreeu toe vir Joab: “Laat die jong manne eers hier voor ons 'n oorlogspel kom speel!”“Hulle kan dit maar doen,” was Joab se antwoord.

15. Twaalf man het toe namens Benjamin en Is-Boset na vore gekom, en so ook twaalf van Dawid se soldate.

16. Maar elkeen het sy opponent aan die hare beetgekry en met die swaard onder die ribbes gesteek, en hulle het gelyk omgekom. Daarom word dié plek in Gibeon die Ribbebeensdeel genoem.

17. Daardie dag het daar toe 'n hewige geveg ontwikkel, en Abner en die manskappe van Israel is deur Dawid se soldate verslaan.

18. Seruja se drie seuns, Joab, Abisai en Asael, was ook daar. Asael was vinnig soos 'n wildsbok.

19. Hy het Abner agternagesit en knaend op sy spoor gebly.

20. Abner het vir hom oor sy skouer gevra: “Is dit jy, Asael?”“Ja, dis ek,” was die antwoord.

21. Abner sê toe vir hom: “As jy agter 'n uitrusting aan is, draai weg in enige rigting, oorrompel enige jong soldaat en vat syne.”Maar hy wou nie wegdraai nie.

22. Abner het weer vir hom gesê: “Gee pad agter my! Waarom moet ek jou doodmaak? Hoe sal ek jou broer Joab in die oë kan kyk?”

23. Maar hy het bly weier om weg te draai. Toe steek Abner hom sommer na agter toe met die spies in die maag, sodat dit by sy rug uitkom. Asael het net daar in sy spore dood neergesak. Elkeen wat op die plek gekom het waar hy geval het, het 'n oomblik gaan staan.

24. Daarna het Joab en Abisai vir Abner agternagesit. Sononder het hulle by die Elmboogrant aangekom, regoor die fontein langs die pad na Gibeon se weiveld toe.

25. Die Benjaminiete het almal bo-op die rant gestaan en in 'n bondel agter Abner saamgedrom.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 2