Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 18:7-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. en Israel is deur Dawid se manskappe verslaan. Dit was 'n groot slagting. Daar het dié dag nie minder nie as twintig duisend man geval.

8. Die geveg het oor die hele landstreek versprei, en op daardie dag het die bos meer lewens geëis as die swaard.

9. Dawid se manskappe het op Absalom afgekom waar hy op 'n muil gery het. Die muil het onder die digte takke van 'n groot akkerboom deurgegaan, en Absalom se kop het in die boom vasgehaak. Die muil waarop hy gery het, het aangehou hardloop en Absalom het tussen hemel en aarde bly hang.

10. Iemand het dit gesien en aan Joab vertel: “Weet u, ek het Absalom aan 'n akkerboom sien hang.”

11. Toe sê Joab aan die man wat dit vir hom vertel het: “Wat? Het jy hom gesien? Waarom het jy hom dan nie net daar doodgeslaan nie? Ek sou jou dan tien silwerstukke en 'n eregordel moes gegee het.”

12. Maar die man antwoord vir Joab: “Al sou ek ook vir my duisend silwerstukke met my eie hand kon aftel, sou ek nog nie my hand teen die koning se seun opgetel het nie. Ons het immers almal gehoor hoe die koning u en Abisai en Ittai beveel: ‘Werk tog saggies met my kind Absalom.’

13. As ek verkeerd opgetree het, sou dit by die koning bekend geword het en dan sou ú my nie gehelp het nie.”

14. Toe sê Joab: “Ek kan nie so staan en tyd mors hier by jou nie.” Hy het drie spiese gegryp en dit deur Absalom se hart gaan steek waar hy nog lewendig in die boom gehang het.

15. Toe het tien wapendraers van Joab nader gestorm en Absalom heeltemal dood geslaan.

16. Hierna het Joab die ramshoring geblaas en die leër het opgehou om Israel te agtervolg. So het Joab die leër laat terugtrek,

17. maar die hele Israel het huis toe gevlug.Absalom se lyk is in 'n diep gat in die bos gegooi, en hulle het 'n groot hoop klippe op hom gepak.

18. Dit was dieselfde Absalom wat die gedenkteken in die koningslaagte opgerig het om homself te vereer, omdat hy gesê het hy het nie meer 'n seun om sy naam in gedagtenis te hou nie. Daarom het hy die gedenkteken na homself vernoem en dit word nou nog genoem: “Absalom se Gedenkteken”.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 18