Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 18:21-33 Afrikaans 1983 (AFR83)

21. Toe beveel Joab 'n Kussiet: “Gaan vertel vir die koning wat jy gesien het.”Nadat die Kussiet voor Joab gebuig het, het hy begin hardloop.

22. Agimaäs seun van Sadok het weer vir Joab gesê: “Kom wat wil, laat ek tog net agter die Kussiet aan hardloop.”“My seun, waarom wil jy tog hardloop? Daar sal nie vir jou ook 'n boodskappersloon wees nie,” antwoord Joab.

23. “Dit maak nie saak nie; ek hardloop,” sê hy.“Nou hardloop dan,” sê Joab vir hom.Agimaäs het toe met die pad deur die Jordaanstreek gehardloop en die Kussiet verbygegaan.

24. Terwyl Dawid in die stadspoort sit, klim die wag na die uitkykpos op die poort se dak en kyk rond of hy nie dalk iets sien nie. En juis toe kom daar iemand alleen aangehardloop.

25. Die wag roep toe en sê dit vir die koning.“As hy alleen is, bring hy nuus,” sê die koning.Terwyl hy nader kom,

26. sien die wag nog iemand hardloop en hy roep na die poortwagter: “Daar kom nog iemand alleen aangehardloop.”En die koning sê: “Ook hý bring nuus.”

27. “Dit lyk my die voorste een hardloop soos Agimaäs seun van Sadok,” merk die wag op.“Hy is 'n goeie man, hy kom met 'n goeie boodskap,” voeg die koning toe by.

28. “Alles is reg,” roep Agimaäs en buig voor die koning en sê: “Geloof sy die Here u God, omdat Hy die mense wat in opstand gekom het teen die koning, verslaan het.”

29. “Gaan dit goed met my kind Absalom?” vra die koning. Hierop antwoord Agimaäs: “Ek het 'n groot samedromming opgemerk net toe u offisier Joab my gestuur het. Verder weet ek niks.”

30. Die koning het hom beveel: “Wag 'n bietjie. Kom staan hier eenkant.”Hy het dit gedoen

31. en toe kom die Kussiet juis net daar aan en sê: “Daar is nuus vir die koning, want die Here het u vandag verlos van almal wat teen u in opstand gekom het.”

32. “Gaan dit goed met my kind Absalom?” vra die koning, en die Kussiet antwoord: “Mag dit met die vyande van die koning en almal wat teen u in opstand kom en u ondergang wil bewerk, gaan soos met daardie kind.”

33. Die koning het ontroerd geraak en in trane na die kamer bokant die poort opgeklim. Daar het hy heen en weer geloop en gesê: “My seun, Absalom, my seun, my seun. Absalom, ag, as ek maar in jou plek kon gesterwe het. Absalom, my seun, my seun.”

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 18