hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 12 Afrikaans 1983 (AFR83)

Natan kondig Dawid se straf aan

1. Daarna het die Here vir Natan na Dawid toe gestuur. Natan het by hom gekom en gesê: “Daar was twee mans in dieselfde plek. Die een was ryk en die ander arm.

2. Die ryke het groot troppe kleinvee en beeste gehad.

3. Behalwe een ou ooilammetjie het die arm man niks besit nie. Hy het haar aan die lewe gehou, en sy het saam met sy kinders grootgeword. Sy het van sy krummeltjies geëet, uit sy beker gedrink en op sy skoot geslaap. Ja, sy was vir hom soos 'n eie dogter.

4. Daar het 'n besoeker by die ryk man gekom en hy kon dit nie oor sy hart kry om van sy eie kleinvee of beeste te vat en vir die reisiger te slag nie. Toe vat hy die ooilam van die arm man en slag haar vir sy gas.”

5-6. Dawid het hom bloedig vererg oor die man en vir Natan gesê: “So seker as die Here leef, 'n man wat dit oor sy hart kon kry om so iets te doen, moet doodgemaak word, en hy moet viervoudig vir die ooilam vergoed.”

7. “Jy is die man!” sê Natan toe vir Dawid. “So sê die Here die God van Israel: Ek het jou tot koning van Israel gesalf. Ek het jou teen Saul beskerm.

8. Ek het aan jou die koningskap van Saul gegee en boonop nog sy vrouens ook. Ek het die koningskap oor Israel en Juda aan jou gegee. En as dit nog te min was, sou Ek enigiets daar wou bygee.

9. Waarom het jy nou die woord van die Here geminag deur so 'n verkeerde ding te doen? Jy het Urija die Hetiet met die swaard doodgemaak en toe sy vrou vir jou gevat. Ja, jy het hom vermoor met die swaard van die Ammoniete.

10. “Daarom sal die swaard nou nooit meer uit jou huis weggaan nie, want jy het My geminag toe jy Urija die Hetiet se vrou vir jou gevat het.

11. “So sê die Here: Van nou af gaan Ek uit jou eie huis ellende oor jou bring. Ek sal jou vrouens voor jou oë vat en aan iemand anders gee. Hy sal by jou vrouens slaap oop en bloot,

12. want jy het 'n ding in die geheim gedoen, maar Ek sal alles oop en bloot voor die hele Israel doen.”

13. Toe sê Dawid vir Natan: “Ek het gesondig teen die Here.”En Natan sê vir hom: “Die Here het jou sonde vergewe: jy sal nie nou sterwe nie.

14. Maar omdat jy deur hierdie daad die vyande van die Here aanleiding gegee het om Hom te laster, sal hierdie selfde kind wat vir jou gebore is, sterwe.”

15. Natan het huis toe gegaan, en die Here het die kind wat Urija se vrou vir Dawid in die wêreld gebring het, getref. Die kind het ernstig siek geword.

16. Dawid het tot God gebid vir die kind. Hy het hom verootmoedig deur aanhoudend te vas, hom terug te trek en op die grond te lê.

17. Die hoofde van sy huishouding het hom probeer oorreed om van die grond af op te staan, maar hy wou nie. Hy het nie saam met hulle aan tafel verskyn nie.

18. Op die sewende dag het die kind gesterwe, en Dawid se amptenare was bang om hom te vertel dat die kind dood is.Hulle het gesê: “En nou? Toe die kind nog gelewe het, het ons met die koning gepraat, en hy het nie na ons geluister nie. Hoe kan ons nou vir hom sê die kind is dood? Hy sal 'n onbesonne ding aanvang.”

19. Dawid het agtergekom dat sy amptenare onder mekaar fluister en hy het afgelei dat die kind dood is. “Is die kind dood?” het hy gevra. “Hy is dood,” was hulle antwoord.

20. Toe het Dawid van die grond af opgestaan. Hy het gaan was, reukolie aangesmeer, aangetrek en na die heiligdom toe gegaan om te aanbid. Hierna is hy huis toe en het hy kos gevra. Hulle het hom 'n ete voorgesit en hy het geëet.

21. Sy amptenare vra hom toe: “Wat doen u nou? Toe die kind nog gelewe het, het u gevas en gehuil. Nou dat die kind dood is, staan u op en u eet?”

22. Sy antwoord was: “Terwyl die kind nog gelewe het, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink: wie weet, dalk is die Here my genadig, en dan sal die kind lewe.

23. Maar nou is hy dood. Waarom moet ek nog vas? Kan ek hom na my toe laat terugkom? Ek gaan na hom toe; hy kan nie na my toe terugkom nie.”

24. Daarna het Dawid sy vrou Batseba getroos. Hy het by haar slaapkamer ingegaan en by haar geslaap. Sy het 'n seun in die wêreld gebring, en Dawid het hom Salomo genoem. Die Here het hom liefgehad

25. en het hom deur die profeet Natan Jedidja laat noem, wat beteken: “die Here het hom lief”.

Dawid onderwerp die Ammoniete

26. Joab het Rabba, die hoofstad van die Ammoniete, aangeval. Nadat hy die koninklike woonbuurt beset het,

27. het hy 'n boodskap na Dawid toe gestuur: “Ek het Rabba aangeval en ek het reeds die ommuurde waterbron verower.

28. Roep tog nou die res van die burgers op en kom beleër die stad. Neem ú dit in sodat ek nie self die stad verower en dit dus my eiendom word nie.”

29. Dawid het al die burgers opgeroep en teen Rabba gaan veg en dit ingeneem.

30. Hy het die kroon van hulle koning se kop afgehaal. Die kroon was van goud, sowat vier en dertig kilogram, en het 'n kosbare steen bevat. Dit het nou op Dawid se kop gekom, en hy het ook 'n groot buit uit Rabba saamgevat.

31. Hy het die burgers van Rabba weggevoer en hulle aan die werk gesit met saag, ysterbeitel en byl; party het hy by die steenoonde laat werk. So het hy teenoor al die Ammonitiese stede opgetree. Daarna het hy en al die burgers na Jerusalem toe teruggegaan.