hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 20 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Daar was 'n opruier met die naam Seba seun van Bikri, 'n Benjaminiet. Hy het die ramshoring geblaas en gesê: “Dawid is nie deel van ons nie; ons het niks aan Isai se seun nie. Elkeen terug na sy woonplek toe, Israel!”

2. Toe het die hele Israel weggetrek van Dawid af agter Seba seun van Bikri aan.Maar Juda het hulle koning van die Jordaan af Jerusalem toe gevolg.

3. Toe koning Dawid in Jerusalem in sy paleis kom, het hy die tien vrouens, die byvrouens, wat hy agtergelaat het om die paleis op te pas, in 'n bewaakte huis gesit. Hy het hulle onderhou, maar nie by hulle geslaap nie, en hulle was tot met hulle dood afgesonder en lewenslank feitlik weduwees.

Joab vermoor vir Amasa

4. Die koning het vir Amasa beveel: “Roep die burgers van Juda vir my binne drie dae op. Kom meld jou dan weer aan.”

5. Amasa het Juda toe gaan oproep, maar hy het die tyd wat Dawid vasgestel het, oorskry.

6. Toe sê die koning vir Abisai: “Nou sal Seba seun van Bikri ons meer moeilikheid gee as Absalom. Vat jy my manskappe en haal hom in voordat hy dalk die een of ander sterk stad bereik waar ons hom nie kan bykom nie.”

7. Joab en sy afdeling het ook agter hom aan uitgetrek. Die koninklike lyfwag en al die vegters het uit Jerusalem getrek om Seba seun van Bikri te agtervolg.

8. Terwyl hulle by die groot klip in Gibeon was, het Amasa by hulle gekom. Joab het nog sy mantel aangehad waaroor sy swaard in die skede vasgegespe was. Hy het op Amasa afgestap, en toe val die swaard uit.

9. Joab het vir hom gevra: “Gaan dit goed met jou, my broer?” en hom met sy regterhand aan die baard gegryp asof hy hom wou soen.

10. Amasa was nie op sy hoede vir die swaard in Joab se ander hand nie, en Joab het hom daarmee in die onderlyf gesteek, sodat sy ingewande op die grond uitgeval het. 'n Tweede steek was onnodig; hy sou sterf. Joab en sy broer Abisai het toe vir Seba seun van Bikri agtervolg.

11. Een van Joab se volgelinge het by Amasa bly staan en gesê: “Wie vir Joab verkies en wie vir Dawid is, volg Joab.”

12. Maar Amasa het in die middel van die pad in sy bloed gelê en gekrul van die pyn. Toe die man sien dat al die manskappe gaan staan, het hy vir Amasa uit die pad uit die veld in gesleep en 'n kledingstuk oor hom gegooi, want elkeen wat hom gesien het, het gaan staan.

13. Toe hy uit die pad verwyder is, het almal Joab gevolg om Seba seun van Bikri agterna te sit.

Seba word om die lewe gebring

14. Seba het met al die stamme van Israel getrek na Abel toe, dit is Bet-Maäka. Al die Beriete het bymekaargekom en hom ook gevolg.

15. Joab-hulle het toe gekom en vir Seba beleër in Abel-Bet-Maäka. Hulle het 'n beleëringswal teen die stad gegooi.Toe dit al vas teen die voorskans staan, en die hele leër wat by Joab was, besig was om die muur te ondergrawe en dit so te laat val,

16. het 'n wyse vrou vanuit die stad geroep: “Luister! Luister! Sê tog vir Joab hy moet hierheen kom, ek wil met hom praat.”

17. Hy het nader gegaan en die vrou het gevra: “Is u Joab?”Hy het geantwoord: “Ja,” en sy sê vir hom: “Luister tog na my woorde.”“Ek luister,” was sy antwoord.

18. Sy sê toe: “Vanmelewe het die mense altyd gesê: ‘Hulle kan gerus maar by Abel kom raad vra,’ en dan het hulle daarvolgens gehandel.

19. Ons is van die heel getroustes in Israel. U wil nou 'n stad uitroei wat in Israel in aansien is. Waarom wil u 'n stad wat aan die Here behoort, uitroei?”

20. Toe antwoord Joab: “Dit wil ek glad nie doen nie. Ek wil nie uitroei of uitwis nie.

21. Dit gaan maar net oor 'n man uit die Efraimsberge. Sy naam is Seba seun van Bikri. Hy het teen koning Dawid in opstand gekom. Lewer hom net uit, dan trek ek van die stad af weg.”Hierop het die vrou geantwoord: “Goed! Sy kop sal vir jou oor die muur gegooi word.”

22. Die vrou is toe met haar plan na die stadsburgers toe, en hulle het Seba seun van Bikri se kop afgesny en dit na Joab toe oorgegooi. Hy het die ramshoring geblaas, en die manskappe het van die stad af uitmekaargegaan, elkeen na sy woonplek toe. Maar Joab het na die koning toe teruggegaan in Jerusalem.

Dawid se amptenare

23. Joab was die bevelvoerder oor die hele Israelitiese leër. Benaja seun van Jojada het die beheer gehad oor die koninklike lyfwag.

24. Adoniram was in bevel van die dwangarbeiders. Josafat seun van Agilud was hoof uitvoerende beampte;

25. Sewa was staatsekretaris, en Sadok en Abjatar was priesters.

26. En verder was Ira, uit Jaïr, ook priester onder Dawid.