Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 9:20-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

20. Al koning Salomo se drinkgerei was van goud. Alles wat in die Libanonsbosgebou gebruik is, was van fyngoud. Silwer is in Salomo se dae nie as iets besonders beskou nie.

21. Die koning het 'n vloot gehad wat saam met die dienaars van Hiram na Tarsis toe gevaar het. Om die drie jaar het die Tarsisvloot teruggekom, vol goud en silwer, ivoor, ape en bobbejane.

22. Koning Salomo het al die konings van die aarde oortref in rykdom en wysheid.

23. Al die konings van die aarde het geprobeer om hom te sien te kry en die wysheid wat God hom gegee het, aan te hoor.

24. Elkeen het sy geskenk saamgebring: silwer- en goudware, mantels, wapenrusting, kosbare kruie, perde en muile. So het dit jaar vir jaar gegaan.

25. Salomo het vier duisend stalle vir perde en strydwaens gehad en twaalf duisend ruiters. Hy het hulle gestasioneer in die strydwaposte en by die paleis in Jerusalem.

26. Hy was opperheerser oor al die konings, van die Eufraat af tot in die land van die Filistyne en tot aan die grens van Egipte.

27. Silwer het hy in Jerusalem so alledaags soos klippe gemaak en seders soos die wildevyebome in die Laeveld.

28. Perde is vir Salomo uit Egipte en al die lande ingevoer.

29. Die res van die verhale oor Salomo, dié van vroeër sowel as dié van later, is opgeteken in Die Verhale van die Profeet Natan, Die Profesieë van Agija van Silo, en Die Gesigte van die Siener Jedi oor Jerobeam seun van Nebat.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 9