Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 7:9-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Op die agste dag na die inwyding van die altaar wat sewe dae lank gevier is, het hulle 'n feestelike byeenkoms gehou. Die huttefees daarna het ook sewe dae geduur.

10. Eers op die drie en twintigste van die sewende maand het Salomo die volk terug laat gaan huis toe, bly en gelukkig oor die goeie dinge wat die Here gedoen het aan Dawid, Salomo en sy volk Israel.

11. So het Salomo dan die huis van die Here en die koninklike paleis voltooi. Alles wat Salomo onderneem het aan die huis van die Here en aan sy eie paleis, is voorspoedig afgehandel.

12. Daarna verskyn die Here een nag aan Salomo en sê vir hom: “Ek het jou gebed verhoor en hierdie plek vir My gekies as die plek waar daar vir My offerandes gebring kan word.

13. As Ek die hemel gesluit hou sodat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land kaal te vreet, of as Ek pes onder my volk stuur,

14. en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel.

15. Ek sal hierdie plek nou onder my sorg neem en ontvanklik wees vir elke gebed hiervandaan.

16. En nou kies Ek en heilig Ek hierdie tempel sodat my Naam altyd daar sal wees, en dit altyd my sorg en my liefde sal geniet.

17. “En jy, as jy soos jou vader Dawid leef volgens my wil en alles doen wat Ek jou beveel, en my voorskrifte en bepalings nakom,

18. sal Ek jou heerskappy bestendig. So het Ek met jou vader Dawid ooreengekom: Nooit sal dit jou ontbreek aan iemand om oor Israel te regeer nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 7