Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 6:34-42 Afrikaans 1983 (AFR83)

34. “Sou u volk teen sy vyande uittrek in 'n oorlog wat deur U beveel is, en hulle bid tot U in die rigting van hierdie stad wat U gekies het en die huis wat ek vir u Naam gebou het,

35. luister tog uit die hemel na hulle gebed en hulle smeking en gee hulle die oorwinning.

36. “Sou hulle teen U sondig, want daar is nie 'n mens wat nie sondig nie, en U in u verontwaardiging hulle aan 'n vyand oorgee sodat hulle as gevangenes weggevoer word na 'n land, ver of naby,

37. en hulle daar in dié land waar hulle gevangenes is, tot inkeer kom en hulle weer tot U wend en U daar in die land van hulle gevangenskap smekend aanroep: ‘Ons het gesondig, ons het verkeerd gedoen, ons is skuldig’,

38. en hulle tot U wend met hart en siel in die land van hulle gevangenskap en hulle bid in die rigting van hulle land wat U aan hulle voorvaders gegee het en van die stad wat deur U gekies is en die tempel wat ek vir u Naam gebou het,

39. luister tog uit die hemel, uit u woonplek, na hulle gebed en smeking en neem hulle straf weg en vergeef u volk wat teen U gesondig het.

40. “My God, hou dan nou hierdie plek onder u sorg en verhoor tog elke gebed hiervandaan.

41. “Kom dan nou na u rusplek toe, Here God, U en u magtige ark. Laat u priesters, Here God, onder die beskerming van u hulp lewe, en laat u troue dienaars hulle verheug in die goeie dinge.

42. Here God, hou u gesalfde onder u sorg. Dink aan wat U toegesê het aan u dienaar Dawid.”

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 6