Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 4:5-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. Die waterbak was nege sentimeter dik en sy rand was soos 'n beker se rand in die vorm van die kelk van 'n lelie. Dit kon ses en sestig kiloliter bevat.

6. Hy het tien waskomme gemaak en vyf aan die regterkant en vyf aan die linkerkant gesit. Daarin spoel hulle die offergereedskap af. Die waterbak is vir die priesters om in te was.

7. Hy het tien goue kandelaars gemaak volgens voorskrif en hulle in die voorste heiligdom gesit, vyf aan die regterkant en vyf aan die linkerkant.

8. Hy het tien tafels gemaak en in die voorste heiligdom gesit, vyf aan die regterkant en vyf aan die linkerkant. Hy het honderd goue komme vir besprinkeling gemaak.

9. Hy het die voorhof van die priesters ingerig en die groot binneruimte, met deure vir die binneruimte. Albei se deure het hy met brons oorgetrek.

10. Die waterbak het hy aan die regterkant, suidoos van die tempel, opgestel.

11. Hiram het die potte, die skoppe en die komme vir besprinkeling gemaak. So het hy die werk afgehandel wat hy vir koning Salomo aan die tempel van God moes doen:

12. die twee pilare met die komvormige skywe en die kapitele bo-aan die twee pilare, en ook die roosters om die twee skywe van die kapitele bo-aan die pilare toe te maak;

13. die vier honderd granate vir die twee roosters, 'n dubbele ry granate vir elke rooster om die skywe van die kapitele bo-op die pilare toe te maak.

14. Hy het ook die waentjies en die waskomme op die waentjies gemaak,

15. die waterbak met die twaalf beeste daaronder,

16. die potte, skoppe en vurke. Al die nodige toerusting het die meestervakman Hiram vir koning Salomo vir die huis van die Here vervaardig van gepoleerde brons.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 4