Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 34:8-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. In die agtiende jaar van sy regering, toe hy nog besig was om die land en die tempel skoon te maak, het Josia vir Safan seun van Asalja, die stadsbevelvoerder Maäseja en die hoof uitvoerende beampte Joag seun van Joahas gestuur om die huis van die Here sy God te herstel.

9. Hulle het die geld wat deur die Levitiese drumpelwagte vir die tempel ingesamel is in Manasse en Efraim en oral in Israel, Juda en Benjamin en by die inwoners van Jerusalem, aan die hoëpriester Gilkija gaan oorhandig.

10. Die geld is toe gegee aan die mense wat vir die werk aan die tempel moes sorg en dié het dit gebruik vir die heropbou en herstel van die gebou.

11. Hulle het die geld vir die vakmanne en bouwerkers gegee om gekapte klip en balke te koop en die vertrekke wat onder die konings van Juda in verval geraak het, weer op te bou.

12. Die manne het die werk met groot sorg uitgevoer. Die opsigters oor hulle was die Leviete Jagat en Obadja uit die Merarigroep, en Sagaria en Mesullam uit die Kehatgroep. Die Leviete was mense wat almal bedrewe was in die speel van musiekinstrumente,

13. maar hulle het ook toesig gehou oor die draers en het leiding gegee aan elkeen wat 'n taak moes uitvoer, in watter soort werk ook al. Ook die administratiewe amptenare, die regsbeamptes en die poortwagte was Leviete.

14. Terwyl hulle die geld wat vir die huis van die Here ingebring is, uitgehaal het, het die priester Gilkija die boek gekry met die wet van die Here wat deur bemiddeling van Moses aan Israel gegee is.

15. Gilkija het toe vir die staatsekretaris Safan gesê: “Ek het die wetboek in die tempel gekry.”Hy het die wetboek aan Safan oorhandig,

16. en Safan het dit na die koning toe geneem en ook aan die koning verslag gedoen: “Alles wat aan u amptenare opgedra is, is gedoen;

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 34