Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 34:19-33 Afrikaans 1983 (AFR83)

19. Toe die koning hoor wat die wet sê, het hy sy klere geskeur

20. en opdrag gegee aan Gilkija, aan Agikam seun van Safan, aan Akbor seun van Miga, aan die staatsekretaris Safan en aan Asaja, die hoofamptenaar van die koning:

21. “Gaan raadpleeg die Here namens my en namens almal wat nog oor is van Israel en Juda. Raadpleeg Hom oor die inhoud van die boek wat gekry is. Ons voorvaders was ongehoorsaam aan die woord van die Here en het nie gehandel in ooreenstemming met alles wat in hierdie boek staan nie. Daarom is die toorn van die Here wat op ons uitgestort gaan word, groot.”

22. Gilkija en die manne van die koning is toe na die profetes Gulda toe. Sy was die vrou van die klerebewaarder Sallum seun van Tikwa, seun van Gasra, en het in die nuwe deel van Jerusalem gewoon. Hulle het haar vertel waarom hulle gekom het,

23. en sy het geantwoord: “Ek het 'n boodskap van die Here die God van Israel. Sê vir die man wat julle na my toe gestuur het:

24. So sê die Here: Ek bring onheil oor hierdie plek en oor sy inwoners, die volle straf soos dit opgeteken staan in die boek wat aan die koning van Juda voorgelees is,

25. want hulle het My verlaat. Hulle het offerandes gebring vir ander gode en My uitgetart met allerhande maaksels van hulle eie hande. My toorn word op hierdie plek uitgestort, die vlam van my toorn sal nie geblus word nie.

26-27. Maar sê vir die koning van Juda wat vir julle gestuur het om die Here te raadpleeg: So sê die Here die God van Israel: Ek het daarop ag geslaan dat jy in jou hart geraak is deur die woorde wat jy gehoor het en dat jy berou getoon het voor God toe jy hoor wat Hy sê oor hierdie plek en sy inwoners, en dat jy jou klere geskeur het en gehuil het en voor My berou getoon het, sê die Here.

28. Ek sal jou in vrede laat sterwe en in jou graf laat ingaan; jy sal niks van al die onheil wat Ek oor hierdie plek en sy inwoners bring, self beleef nie.”Die afvaardiging het so aan die koning gerapporteer,

29. en hy het al die leiers van Juda en Jerusalem bymekaar laat kom.

30. Daarna is die koning na die huis van die Here toe met al die mense van Juda by hom en ook die inwoners van Jerusalem, die priesters en die Leviete, al die mense, groot en klein. Daar het hy alles aan hulle voorgelees wat in die boek van die verbond gestaan het wat in die huis van die Here gevind is.

31. Toe het die koning op sy plek gaan staan en 'n verbond met die Here gesluit en beloof om die Here te volg en sy gebooie, verordeninge en voorskrifte met sy hele hart en siel te gehoorsaam en om die bepalings van die verbond soos dit in hierdie boek vasgelê is, na te kom.

32. Hy het almal wat in Jerusalem en Benjamin was, in die verbond ingesluit. Die inwoners van Jerusalem het gedoen wat die verbond van God, die God van hulle voorvaders, vereis.

33. Josia het alles wat vir God afskuwelik is, verwyder uit die hele Israelitiese gebied en almal in Israel verplig om die Here hulle God te dien. So lank hy geleef het, het hulle nie weggedraai van die Here, die God van hulle voorvaders, af nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 34