Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 34:14-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. Terwyl hulle die geld wat vir die huis van die Here ingebring is, uitgehaal het, het die priester Gilkija die boek gekry met die wet van die Here wat deur bemiddeling van Moses aan Israel gegee is.

15. Gilkija het toe vir die staatsekretaris Safan gesê: “Ek het die wetboek in die tempel gekry.”Hy het die wetboek aan Safan oorhandig,

16. en Safan het dit na die koning toe geneem en ook aan die koning verslag gedoen: “Alles wat aan u amptenare opgedra is, is gedoen;

17. die geld wat in die tempel beskikbaar was, is uitgetel en oorhandig aan die opsigters en aan die mense wat die werk moet uitvoer.”

18. Die staatsekretaris Safan het ook aan die koning die mededeling gedoen: “Die priester Gilkija het my 'n boek gegee,” en Safan het vir die koning gelees wat daarin staan.

19. Toe die koning hoor wat die wet sê, het hy sy klere geskeur

20. en opdrag gegee aan Gilkija, aan Agikam seun van Safan, aan Akbor seun van Miga, aan die staatsekretaris Safan en aan Asaja, die hoofamptenaar van die koning:

21. “Gaan raadpleeg die Here namens my en namens almal wat nog oor is van Israel en Juda. Raadpleeg Hom oor die inhoud van die boek wat gekry is. Ons voorvaders was ongehoorsaam aan die woord van die Here en het nie gehandel in ooreenstemming met alles wat in hierdie boek staan nie. Daarom is die toorn van die Here wat op ons uitgestort gaan word, groot.”

22. Gilkija en die manne van die koning is toe na die profetes Gulda toe. Sy was die vrou van die klerebewaarder Sallum seun van Tikwa, seun van Gasra, en het in die nuwe deel van Jerusalem gewoon. Hulle het haar vertel waarom hulle gekom het,

23. en sy het geantwoord: “Ek het 'n boodskap van die Here die God van Israel. Sê vir die man wat julle na my toe gestuur het:

24. So sê die Here: Ek bring onheil oor hierdie plek en oor sy inwoners, die volle straf soos dit opgeteken staan in die boek wat aan die koning van Juda voorgelees is,

25. want hulle het My verlaat. Hulle het offerandes gebring vir ander gode en My uitgetart met allerhande maaksels van hulle eie hande. My toorn word op hierdie plek uitgestort, die vlam van my toorn sal nie geblus word nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 34