Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 31:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Toe alles verby was, is al die Israeliete uit na die stede van Juda toe, almal wat by die fees was. Hulle het in die hele Juda en Benjamin en ook in Efraim en Manasse die klippilare afgebreek, die gewyde pale afgekap en die hoogtes en altare verwoes. Eers nadat alles vernietig is, is die Israeliete terug na hulle stede toe, elkeen na sy eie stukkie grond toe.

2. Hiskia het ook die pligte van die afdelings priesters en Leviete bepaal. Die priesters sowel as die Leviete moes afdelingsgewys, elkeen volgens die aard van sy dienswerk, sorg dra vir die brandoffers, die maaltydoffers, die algemene diens, die belydenis en die lofprysing in die poorte van die woning van die Here.

3. Soos dit in die voorskrifte van die Here vasgelê is, het die koning uit sy persoonlike besit sy deel gedoen vir die brandoffer, die môre- en aandoffers, die offers op die sabbat, die nuwemaansfees en die vasgestelde feestye.

4. Die volk, die inwoners van Jerusalem, moes op bevel van die koning sorg vir die onderhoud van die priesters en die Leviete, sodat dié hulle aandag kon gee aan die uitleg van die wet van die Here.

5. Namate die bevel bekend geword het, het die Israeliete die eerste opbrengste aan koring, wyn, olie, heuning en alles wat die land opgelewer het, ingebring, en ook die tiendes van alles, in groot hoeveelhede.

6. Ook die Israeliete wat in die stede van Juda gewoon het, en die mense van Juda self, het hulle tiendes uit die groot- en kleinvee ingebring en hulle het die gawes wat aan die Here hulle God gewy was, kom neersit, hope en hope.

7. Hulle het in die derde maand daarmee begin, en die goed het bly ophoop tot die sewende maand toe.

8. Toe Hiskia en die amptenare kom en die hope sien, het hulle die Here en sy volk Israel geprys.

9. Hiskia het by die priesters en die Leviete navraag gedoen oor die hope goed,

10. en Asarja die hoëpriester uit die huis van Sadok het vir hom gesê: “Vandat die offergawes by die huis van die Here begin inkom het, is hier meer as genoeg om te eet en daar bly baie oor. Die Here het sy volk geseën, daarom is daar so 'n massa goed oor.”

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 31