Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 30:2-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

2. Dit was nadat die koning met sy amptenare en die hele gemeente van Jerusalem daaroor beraadslaag het of hulle die paasfees in die tweede maand kon vier.

3. Hulle kon dit nie op die vasgestelde tyd vier nie omdat daar nie genoeg priesters gewy was nie en die volk nie in Jerusalem bymekaar was nie.

4. Die koning en die hele gemeente het dit goedgevind om dit so te doen.

5. Hulle het besluit om 'n oproep te laat uitgaan in die hele Israel, van Berseba af tot by Dan, om die paasfees vir die Here die God van Israel in Jerusalem te kom vier, want daar was in dié tyd nie 'n groot gesamentlike fees soos dit destyds voorgeskryf is nie.

6. Die hardlopers is toe op bevel van die koning die hele Israel en Juda deur met die briewe van die koning en sy amptenare, wat soos volg gelui het:“Israeliete, kom terug na die Here, na die God van Abraham, Isak en Israel, dan sal Hy ook terugkom na julle wat vrygekom het en oorgebly het van die oorheersing deur die konings van Assirië.

7. Moenie soos julle vaders en julle broers maak nie wat ontrou was teenoor die Here, die God van hulle voorvaders, sodat Hy van hulle iets gemaak het waaroor mense net die hande van verbasing inmekaar kan slaan, soos julle kan sien.

8. Moenie hardkoppig wees soos julle vaders nie, onderwerp julle aan die Here, en kom na sy heiligdom toe wat Hy vir altyd geheilig het. Dien die Here julle God, dan sal sy toorngloed van julle af weggaan.

9. As julle terugkom na die Here toe, sal julle broers en julle seuns medelye vind by dié wat hulle gevange weggevoer het en sal hulle na hierdie land toe terugkom. Die Here julle God is genadig en barmhartig. Hy sal nie afsydig staan as julle na Hom toe terugkom nie.”

10. Die hardlopers het in die gebied van Efraim en Manasse en tot in Sebulon van stad tot stad gegaan, maar die mense het hulle uitgelag en gespot.

11. Tog het mense in Aser, Manasse en Sebulon berou gekry en na Jerusalem toe gekom.

12. Ook in Juda was die hand van God werksaam. Hy het hulle die koning en die amptenare se bevel wat op sy opdrag berus het, eendragtig laat gehoorsaam.

13. Baie mense het in Jerusalem byeengekom, 'n baie groot gemeente, om die fees van die ongesuurde brood in die tweede maand te vier.

14. Die mense het die altare wat oral in Jerusalem was, afgebreek, ook al die wierookaltare, en dit in die Kedrondal gegooi.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 30