Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 29:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Hiskia het koning geword toe hy vyf en twintig was en hy het nege en twintig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Abi, 'n dogter van Sagaria.

2. Hiskia het gedoen wat reg is in die oë van die Here en het in alles die voorbeeld van sy voorvader Dawid gevolg.

3. Hy het in die eerste jaar van sy regering, in die eerste maand, die deure van die huis van die Here oopgemaak en hulle herstel.

4. Daarna het hy die priesters en die Leviete laat kom en hulle op die Oosplein bymekaargebring

5. en toegespreek: “Luister na my, Leviete! Reinig julle en reinig die huis van die Here, die God van julle voorvaders. Vat die vuilgoed uit die heiligdom uit.

6. Ons voorvaders was ontrou en het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here ons God. Hulle het Hom verlaat, die woning van die Here nie versorg nie en dit die rug toegekeer.

7. Hulle het boonop die deure van die ingangsportaal gesluit, die lampe laat doodgaan en geen wierookoffer of brandoffer vir die God van Israel gebring in die heiligdom nie.

8. Daarom het die toorn van die Here oor Juda en Jerusalem gekom, en Hy het van hulle iets gemaak waaroor mense net met afgryse vervul kan word en die hande van verbasing inmekaar kan slaan en kan fluit, soos julle met julle eie oë sien.

9. Ons vaders het gesneuwel, ons seuns en ons dogters en ons vrouens het gevangenes geword deur dié dinge.

10. En nou het ek my voorgeneem om 'n verbond te sluit met die Here die God van Israel, sodat die gloed van sy toorn van ons weggeneem sal word.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 29