Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 28:1-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Agas was twintig toe hy koning geword het, en hy het sestien jaar in Jerusalem geregeer. Hy het nie gedoen wat reg is in die oë van die Here soos sy voorvader Dawid nie.

2. Hy het die pad geloop van die konings van Israel en hy het selfs beelde van die Baäls laat giet.

3. Hy het in die Ben-Hinnomdal offerandes gebring en van sy kinders daar verbrand volgens die afskuwelike gebruik van die heidennasies wat deur die Here voor die Israeliete uit verdryf is.

4. Hy het diereoffers en wierookoffers gebring op die hoogtes en op die rante en onder elke groot boom.

5. Daarom het die Here sy God hom oorgegee in die mag van die koning van Aram. Dié het hom verslaan en 'n groot klomp van sy mense krygsgevangenes gemaak en hulle na Damaskus toe weggevoer.Agas is ook oorgegee in die mag van die koning van Israel wat hom 'n verpletterende neerlaag toegedien het.

6. Peka seun van Remalja het in Juda op een dag honderd en twintig duisend man, almal soldate, doodgemaak, omdat hulle die Here die God van hulle voorvaders verlaat het.

7. Sikri, 'n krygsman uit Efraim, het die prins Maäseja, die paleisbestuurder Asrikam en die onderkoning Elkana doodgemaak.

8. Die Israeliete het van hulle broedervolk twee honderd duisend vrouens, seuns en dogters gevange geneem en boonop 'n groot hoeveelheid buit geneem en na Samaria toe saamgevat.

9. Daar was in Samaria 'n profeet van die Here met die naam Oded. Hy het die leër wat in Samaria teruggekom het, voorgestaan en vir hulle gesê: “In sy toorn teen Juda het die Here, die God van julle voorvaders, hulle in julle mag gegee, en julle het onder hulle 'n slagting aangerig met 'n woede wat ten hemel skrei.

10. Nou sê julle julle wil van dié mense van Juda en Jerusalem julle slawe en slavinne maak. Maar julle, is alles wat julle doen nie ook misdade teen die Here julle God nie?

11. Luister nou en vat die gevangenes wat julle uit julle broedervolk weggevoer het, terug, want die toorn van die Here hang oor julle.”

12. 'n Paar van die leiers van die Efraimiete, Asarja seun van Joganan, Berekja seun van Mesillemot, Hiskia seun van Sallu, en Amasa seun van Gadlai, het toe kant gekies teen dié wat van die oorlog af teruggekom het

13. en vir hulle gesê: “Julle bring nie die gevangenes hier in nie. Wat julle wil doen, is 'n misdaad teen die Here en sal ons sondes en misdade teen Hom groter maak. Dit is alreeds groot, en sy toorn hang oor Israel.”

14. Die manskappe het toe afstand gedoen van die gevangenes en die buit, met die leiers en die hele volk as getuies.

15. Die manne wie se name genoem is, het toe die gevangenes onder hulle sorg geneem. Hulle het uit die buit klere geneem vir almal wat nie klere gehad het nie, die gevangenes voorsien van klere, skoene, kos en water, salf aan hulle wonde gesmeer, almal wat nie kon loop nie, op donkies gehelp en hulle weggebring na Jerigo die palmstad toe, by hulle volksgenote. Daarna is die manne terug Samaria toe.

16. In dié tyd het koning Agas laat hulp vra by die konings van Assirië.

17. Die Edomiete het weer gekom en Juda verslaan en gevangenes weggevoer.

18. Die Filistyne het deur die Laeveld en die Suidland van Juda 'n strooptog gemaak en selfs stede beset en daar gaan woon: Bet-Semes, Ajalon, Gederot, Soko met sy buitedorpe, Timna met sy buitedorpe, Gimso met sy buitedorpe.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 28