Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 25:13-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. Intussen het die lede van die leërafdeling wat deur Amasia teruggestuur is sodat hulle nie saam met hom op die veldtog kon gaan nie, 'n strooptog teen die stede van Juda gemaak, van Samaria af tot by Bet-Goron. Hulle het drie duisend mense doodgemaak en baie buit weggedra.

14. Toe Amasia van sy oorwinning oor die Edomiete af terugkom, het hy hulle afgodsbeelde saamgebring en die beelde vir homself opgestel as gode. Hy het hulle vereer en vir hulle offerandes gebring.

15. Hieroor het die toorn van die Here teen Amasia ontvlam. Die Here het 'n profeet na hom toe gestuur en vir hom gesê: “Waarom dien jy gode wat nie hulle eie volk uit jou hande kon red nie?”

16. Maar Amasia het die profeet in die rede geval: “Is jy aangestel as raadgewer van die koning? Bly stil. Soek jy jou dood?”Die profeet het dit toe daargelaat en gesê: “Ek weet nou dat God besluit het om u te vernietig. U maak daarna en u wil nie na my raad luister nie.”

17. Koning Amasia van Juda het op advies van sy raadgewers 'n boodskap gestuur na koning Joas van Israel, seun van Joahas: “Kom ons veg teen mekaar.”

18. Koning Joas van Israel het vir koning Amasia van Juda terug laat weet: “Die doringbos op die Libanon laat weet vir die seder op die Libanon: ‘Laat jou dogter met my seun trou,’ en toe kom die wilde diere van die Libanon verby en trap die doringbos plat.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 25