Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 25:11-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. Daarna het Amasia die nodige moed bymekaargeskraap en sy manne na die Soutvlakte toe gelei waar hy tien duisend Edomiete verslaan het.

12. Bowendien het die manne van Juda nog tien duisend lewendig gevange geneem, hulle bo op 'n krans gebring en hulle daar afgegooi. Almal het hulle te pletter geval.

13. Intussen het die lede van die leërafdeling wat deur Amasia teruggestuur is sodat hulle nie saam met hom op die veldtog kon gaan nie, 'n strooptog teen die stede van Juda gemaak, van Samaria af tot by Bet-Goron. Hulle het drie duisend mense doodgemaak en baie buit weggedra.

14. Toe Amasia van sy oorwinning oor die Edomiete af terugkom, het hy hulle afgodsbeelde saamgebring en die beelde vir homself opgestel as gode. Hy het hulle vereer en vir hulle offerandes gebring.

15. Hieroor het die toorn van die Here teen Amasia ontvlam. Die Here het 'n profeet na hom toe gestuur en vir hom gesê: “Waarom dien jy gode wat nie hulle eie volk uit jou hande kon red nie?”

16. Maar Amasia het die profeet in die rede geval: “Is jy aangestel as raadgewer van die koning? Bly stil. Soek jy jou dood?”Die profeet het dit toe daargelaat en gesê: “Ek weet nou dat God besluit het om u te vernietig. U maak daarna en u wil nie na my raad luister nie.”

17. Koning Amasia van Juda het op advies van sy raadgewers 'n boodskap gestuur na koning Joas van Israel, seun van Joahas: “Kom ons veg teen mekaar.”

18. Koning Joas van Israel het vir koning Amasia van Juda terug laat weet: “Die doringbos op die Libanon laat weet vir die seder op die Libanon: ‘Laat jou dogter met my seun trou,’ en toe kom die wilde diere van die Libanon verby en trap die doringbos plat.

19. Jy dink noudat jy vir Edom verslaan het, kan jy meer roem soek. Bly liewer by die huis. Waarom wil jy jou in die ongeluk stort en tot 'n val kom, jy en Juda saam met jou?”

20. Amasia het hom nie laat waarsku nie, want God het dit so bewerk om hom in Joas se mag oor te gee. Dit was omdat Amasia-hulle die gode van Edom gedien het.

21. Koning Joas van Israel het toe opgetrek en hy en koning Amasia van Juda het slaags geraak in Bet-Semes in Juda.

22. Juda het 'n neerlaag gely teen Israel, en die manskappe het op die vlug geslaan, elkeen na sy huis toe.

23. Koning Joas van Israel het vir koning Amasia van Juda, seun van Joas seun van Joahas, gevange geneem in Bet-Semes en hom na Jerusalem toe gebring. Daar het Joas 'n stuk muur van Jerusalem laat afbreek, van die Efraimspoort af tot by die Hoekpoort, honderd en tagtig meter.

24. Hy het al die goud en silwer gevat, al die tempelgereedskap wat destyds in die tempel by Obed-Edom was, die koninklike skat, en ook nog gyselaars, en toe is hy terug Samaria toe.

25. Amasia seun van koning Joas van Juda het ná die dood van koning Joas van Israel, seun van Joahas, nog vyftien jaar geleef.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 25