Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 25:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Amasia het koning geword toe hy vyf en twintig was en hy het nege en twintig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Jehoaddan, uit Jerusalem.

2. Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here, maar nie met sy hele hart nie.

3. Nadat hy goed gevestig was in sy koningskap, het hy die amptenare deur wie sy pa, die koning, vermoor is, laat doodmaak.

4. Hy het nie hulle kinders ook laat doodmaak nie, want, soos op bevel van die Here geskrywe staan in die wet, in die boek van Moses: “Vaders mag nie oor die optrede van kinders en kinders nie oor die optrede van vaders doodgemaak word nie. Elkeen kan net vir sy eie sonde die doodstraf kry.”

5. Amasia het die manskappe van Juda bymekaar laat kom en hulle familiegewys ingedeel onder bevelhebbers oor duisend en oor honderd — die hele Juda, en ook Benjamin. Hy het dié van twintig jaar en ouer laat tel, en daar is gevind dat hulle drie honderd duisend was, geskik vir militêre diens en gewapen met spies en skild.

6. Vir sowat drie en 'n halwe ton silwer het hy uit Israel nog honderd duisend soldate gehuur.

7. Toe kom daar 'n man van God na hom toe en sê: “Moenie die leër van Israel met u laat saamgaan nie, want die Here is nie by Israel, by die Efraimiete, nie.

8. As u dit tog doen, doen dit dan, maar dan sal u krag nodig hê vir die stryd, want God sal u dan voor die vyand laat swig. God het die mag om te help of om te laat swig.”

9. Maar Amasia vra vir die man van God: “En wat dan van die drie en 'n halwe ton silwer wat ek vir die Israelitiese leërafdeling betaal het?”En die man van God antwoord: “Die Here kan u meer as dit gee.”

10. Amasia het toe die leërafdeling wat uit Efraim by hom aangesluit het, ontslaan en huis toe laat gaan. Hulle was bitter kwaad vir Juda en is woedend terug huis toe.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 25