Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 23:10-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Hy het al die manne, elkeen met sy spies in die hand, om die koning laat staan, naby die altaar en die tempel, van die suidekant tot by die noordekant van die tempel.

11. Toe bring hulle die seun van die koning vorentoe en kroon hom en oorhandig aan hom die koninklike volmag. So het hulle hom koning gemaak. Jojada en sy seuns het hom gesalf en geroep: “Lank lewe die koning!”

12. Atalia het gehoor hoe die mense hardloop en die koning huldig, en het ook na die huis van die Here toe gegaan waar hulle was.

13. Daar sien sy toe die koning staan op sy plek by die ingang, en die volksleiers en die trompetblasers by hom, en al die burgers van die land wat juig en trompette blaas, en die sangers met hulle musiekinstrumente wat die jubelsang lei. Toe skeur Atalia haar klere en skreeu: “Verraad! Verraad!”

14. Die priester Jojada stuur toe die bevelhebbers oor honderd wat in beheer van die manskappe was, en sê vir hulle: “Bring haar uit die tempel uit! Elkeen wat agter haar aan gaan, moet doodgemaak word. Sy mag nie in die huis van die Here sterf nie.”

15. Hulle het haar gegryp en haar na die Perdepoort by die paleis gevat en haar daar doodgemaak.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 23