Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 21:7-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. Die Here wou egter nie die koningshuis van Dawid uitroei nie, want Hy het met Dawid 'n verbond gesluit en het belowe om vir Dawid en sy nageslag die troon vir altyd te verseker.

8. In die tyd van Joram het die Edomiete teen Juda gerebelleer en 'n eie koning oor hulle aangestel.

9. Joram het met sy offisiere en sy hele strydwamag uitgetrek en het in die nag 'n aanval gemaak op die Edomiete wat hom en sy strydwaoffisiere omsingel het.

10. Die Edomiete het egter tog onafhanklik geword, en is dit vandag nog. In dié tyd het ook Libna teen die gesag van Joram in opstand gekom. Dit was omdat Joram nie die Here die God van sy voorvaders gedien het nie.

11. Bowendien het Joram hoogtes ingerig in die berge van Juda, die inwoners van Jerusalem tot ontrou verlei en Juda 'n verkeerde pad laat loop.

12. Daar het vir hom 'n brief van die profeet Elia af gekom wat soos volg gelui het:“So sê die Here die God van jou voorvader Dawid: Omdat jy nie die pad van jou vader Josafat en van koning Asa van Juda loop nie,

13. maar dié van die konings van Israel, en jy Juda en die inwoners van Jerusalem net so ontrou laat word het as die familie van Agab, en jy jou familie, jou eie broers, beter mense as jy, laat vermoor het,

14. daarom sal die Here 'n groot ramp bring oor jou volk, jou kinders, jou vrouens en al wat jy besit.

15. Jy self sal 'n ernstige siekte opdoen, 'n slepende siekte aan jou ingewande, so erg dat jou ingewande sal uitkom.”

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 21