Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 20:3-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

3. Josafat was bang en het by die Here hulp gesoek. Hy het 'n vasdag in die hele Juda uitgeroep,

4. en die Judeërs het bymekaargekom om die hulp van die Here te vra. Uit al die stede van Juda het hulle gekom om die Here se hulp te vra.

5. Josafat het opgestaan in die gemeente van Juda en Jerusalem, in die tempel reg voor die nuwe voorhof,

6. en gebid: “Here, God van ons voorvaders, U is God. U heers uit die hemel oor al die koninkryke van die nasies. Uit u hand kom die mag en die krag. Niemand kan teen U stand hou nie.

7. Dit is U, ons God, wat die vroeëre inwoners van hierdie land voor u volk Israel uit verdryf het en die land aan die nageslag van u vriend Abraham as 'n blywende besitting gegee het.

8. Hulle het hulle hier gevestig en hier vir u Naam 'n heiligdom gebou en gesê:

9. ‘As U 'n ramp oor ons bring, of 'n oorlog om ons te straf, of pes, of hongersnood, sal ons voor hierdie tempel kom staan, voor U, want u Naam is in hierdie tempel, en ons sal na U om hulp roep uit ons nood. Hoor dan en help ons!’

10. “Nou het die mense van Ammon en Moab en die Seïrberge gekom. U het Israel met sy trek uit Egipte nie toegelaat om in hulle gebied te kom nie. Die Israeliete het daardie mense vermy en hulle nie uitgeroei nie.

11. Maar nou vergoed hulle ons deur te kom en ons uit u besitting te wil verdryf wat U aan ons gegee het.

12. Ons God, sal U hulle nie straf nie, want ons het nie die krag om hierdie groot menigte wat teen ons optrek, te weerstaan nie. Ons weet nie wat om te doen nie. Ons oë is op U gerig.”

13. Die hele Juda en hulle afhanklikes, vrouens en kinders, het daar voor die Here gestaan.

14. Toe kom die Gees van die Here daar in die gemeente oor die Leviet Jagasiël seun van Sagaria, seun van Benaja, seun van Jeïel, seun van Mattanja, uit die nageslag van Asaf,

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 20