Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 20:23-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

23. Toe val die Ammoniete en die Moabiete die inwoners van die Seïrberge aan en spaar niemand nie en roei hulle uit. En toe hulle klaar was met die inwoners van Seïr, het hulle mekaar begin uitdelg.

24. Toe die Judeërs by die uitkykpos teenaan die woestyn kom en na die magtige vyand soek, lê daar net lyke op die grond. Daar was nie een oorlewende nie.

25. Josafat en sy manskappe het die buit bymekaar kom maak en 'n groot hoeveelheid gekry: persoonlike besittings aan die lyke en allerlei kosbare goed. Hulle het soveel gekry dat hulle dit nie kon dra nie. Drie dae lank was hulle besig om die buit bymekaar te maak, soveel was dit.

26. Op die vierde dag het hulle 'n samekoms gehou in die Lofdal. Hulle het die Here daar geloof, daarom noem hulle dié plek tot vandag toe die Lofdal.

27. Al die manne van Juda en Jerusalem, met Josafat aan die hoof, is toe met groot blydskap terug Jerusalem toe. Die Here het hulle bly gemaak oor hulle vyande.

28. Hulle is terug na Jerusalem, na die huis van die Here toe, met harpe, liere en trompette.

29. Al die koninkryke was van skrik bevange vir God toe hulle hoor dat die Here oorlog gevoer het teen die vyande van Israel.

30. Die heerskappy van Josafat het rustig voortgegaan, en sy God het hom na alle kante toe rus gegee.

31. Josafat het oor Juda geregeer. Hy was vyf en dertig toe hy koning geword het en het vyf en twintig jaar lank in Jerusalem geregeer. Sy ma was Asuba 'n dogter van Silgi.

32. Hy het die pad van Asa, sy pa, geloop en daar nie van afgewyk nie. Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 20