Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 20:16-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

16. Trek hulle môre tegemoet wanneer hulle in die Bloeiselpas opkom. Julle sal hulle aantref by die punt van die vallei wat in die Jeruelwoestyn uitloop.

17. Julle hoef nie te veg nie, neem net posisie in en staan en kyk na die oorwinning van die Here vir julle. Moenie vrees nie, Juda en Jerusalem, moenie bang wees nie. Trek hulle môre tegemoet. Die Here sal by julle wees.”

18. Toe kniel Josafat, en al die mense van Juda en Jerusalem het voor die Here gebuig en Hom eer betoon.

19. Daarna het die Leviete van die Kehat- en die Koraggroepe opgestaan en die Here die God van Israel uit volle bors geprys.

20. Josafat-hulle is die volgende môre vroeg uit na die Tekoawoestyn toe. Terwyl die manne vertrek, het Josafat daar gestaan en hulle toegespreek: “Luister na my, Juda en inwoners van Jerusalem! Stel julle vertroue in die Here julle God, en julle sal vas staan. Stel julle vertroue in sy profete, en dit sal goed gaan met julle.”

21. Josafat het met die volk oorleg gepleeg en toe sangers laat plek neem voor die gewapende manne. Hulle het vooruit geloop in hulle gewyde klere en die Here geloof met die woorde: “Loof die Here, aan sy liefde is daar geen einde nie.”

22. Juis toe, toe die sangers met die lofprysing en gebed begin, het die Here onverwagte aanvalle bewerk op die Ammoniete, die Moabiete en die mense van die Seïrberge wat teen Juda opgetrek het, en hulle het die een neerlaag na die ander gely.

23. Toe val die Ammoniete en die Moabiete die inwoners van die Seïrberge aan en spaar niemand nie en roei hulle uit. En toe hulle klaar was met die inwoners van Seïr, het hulle mekaar begin uitdelg.

24. Toe die Judeërs by die uitkykpos teenaan die woestyn kom en na die magtige vyand soek, lê daar net lyke op die grond. Daar was nie een oorlewende nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 20