Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 16:1-6 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. In die ses en dertigste regeringsjaar van Asa het koning Baesa van Israel met 'n veldtog teen Juda begin. Hy het die stad Rama in 'n vesting omskep om te verhoed dat mense heen en weer beweeg na en van koning Asa van Juda.

2. Asa het toe silwer en goud uit die skatkamers van die huis van die Here en die paleis gevat en dit vir koning Ben-Hadad van die Arameërs in Damaskus gestuur met die boodskap:

3. “Daar is 'n verdrag tussen u en my en daar was al een tussen ons vaders. Ek stuur vir u silwer en goud. Breek u verdrag met koning Baesa van Israel dat hy uit my land kan terugtrek.”

4. Ben-Hadad het voldoen aan die versoek van koning Asa. Hy het sy leëraanvoerders gestuur om die stede van Israel aan te val, en hulle het Ijon, Dan, Abel-Majim en al die voorraadstede in Naftali verower.

5. Toe Baesa dit hoor, het hy die bouwerk by Rama gestaak en die hele onderneming laat vaar.

6. Koning Asa het die hele Juda saam gevat en hulle die klip en hout wat Baesa vir die bouwerk by Rama gebruik het, laat wegdra. Hulle het dié gebruik vir bouwerk by Geba en Mispa.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 16