Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 9:28-36 Afrikaans 1983 (AFR83)

28. Sy dienaars het hom op sy wa na Jerusalem toe vervoer en hom daar in die Dawidstad in die familiegraf begrawe.

29. In die elfde regeringsjaar van Joram seun van Agab het Ahasia koning geword oor Juda.

30. Isebel het gehoor dat Jehu na Jisreël toe op pad is. Sy het oogverf aangesmeer en haar hare mooi gemaak. Sy het by die venster gaan staan en uitkyk.

31. Toe Jehu by die poort inkom, het sy vir hom gesê: “Kom jy in vrede, Simri, koningsmoordenaar?”

32. Jehu het na die venster toe opgekyk en gevra: “Wie is aan my kant? Wie?” Twee, drie paleisamptenare het afgekyk na hom toe.

33. Hy het beveel: “Gooi haar af!”Toe gooi hulle haar af. Van haar bloed het teen die muur en teen die perde gespat, en hulle het haar doodgetrap.

34. Hy het in die paleis ingegaan en gaan eet en drink. Daarna het hy gesê: “Sien tog maar om na hierdie vervloekte vrou. Begrawe haar, sy is darem 'n koning se dogter.”

35. Hulle is weg om haar te gaan begrawe, maar hulle kon net die kopbeen, die voete en die hande kry.

36. Toe hulle dit aan Jehu kom rapporteer, het hy gesê: “Dit is die woord van die Here wat deur sy dienaar Elia die Tisbiet gekom het: ‘Op die oop stuk grond in Jisreël sal die honde die vleis van Isebel opvreet.’

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 9