Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 8:15-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

15. Die volgende môre het Gasael 'n doek gevat, dit in water gesteek en oor die koning se gesig getrek, en die koning het gesterf.Gasael het hom as koning opgevolg.

16. In die vyfde regeringsjaar van koning Joram van Israel, seun van Agab, het Joram seun van Josafat sy pa opgevolg as koning van Juda.

17. Hy was twee en dertig toe hy koning geword het, en hy het ag jaar in Jerusalem geregeer.

18. Hy het die pad van die konings van Israel geloop soos die koningshuis van Agab gedoen het, want hy was getroud met 'n dogter van Agab. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here.

19. Die Here wou Juda nie vernietig nie, ter wille van sy dienaar Dawid. Die Here het hom belowe om altyd iemand uit sy nageslag op sy troon te laat sit.

20. In die tyd van Joram het die Edomiete teen Juda gerebelleer en 'n eie koning oor hulle aangestel.

21. Joram het met sy hele strydwamag opgeruk na Saïr toe. Hy het in die nag die Edomiete aangeval wat hom en sy strydwaoffisiere wou omsingel, maar sy manskappe moes vlug, terug huis toe.

22. Tot vandag toe is Edom in opstand teen die gesag van Juda. Destyds het Libna ook gerebelleer.

23. Die ander verhale oor Joram en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.

24. Hy is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Ahasia het hom as koning opgevolg.

25. In die twaalfde regeringsjaar van koning Joram van Israel, seun van Agab, het Ahasia seun van Joram koning van Juda geword.

26. Ahasia was twee en twintig toe hy koning geword het en hy het 'n jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Atalia 'n kleindogter van koning Omri van Israel.

27. Hy het die pad van die koningshuis van Agab geloop: hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here net soos die koningshuis van Agab, want hy het ingetrou in die familie van Agab.

28. Saam met Joram seun van Agab het hy opgeruk om te veg teen koning Gasael van Aram by Ramot in Gilead. Die Arameërs het vir Joram daar gewond.

29. Koning Joram het teruggegaan om in Jisreël te gaan herstel van die wonde wat die Arameërs hom in Ramot toegedien het toe hy teen koning Gasael van Aram geveg het. Koning Ahasia van Juda, seun van Joram, het vir Joram seun van Agab in Jisreël gaan besoek waar hy siek gelê het.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 8