Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 25:5-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. maar die Galdese leër het die koning agtervolg en hom ingehaal op die Jerigovlakte. Sy hele leër was toe al uitmekaargejaag, weg van hom af,

6. en hy is gevang en na die koning van Babel toe in Ribla gevat. Hy is verhoor,

7. en toe het hulle sy seuns voor sy oë geslag, sý oë uitgesteek, hom met bronskettings geboei en na Babel toe gevat.

8. In die vyfde maand, op die sewende van die maand, in die negentiende regeringsjaar van koning Nebukadnesar van Babel het Nebusaradan by Jerusalem aangekom. Hy was hoof van die lyfwag en amptenaar van die koning van Babel.

9. Hy het die huis van die Here, die paleis en al die huise in Jerusalem, elke groot gebou, afgebrand.

10. Al die Galdese soldate wat onder sy bevel was, het die muur om Jerusalem afgebreek.

11. Die mense wat in die stad oor was, ook dié wat na die koning van Babel toe oorgeloop het, al wat van die groot stadsbevolking oorgebly het, is gevange weggevoer deur Nebusaradan die hoof van die lyfwag.

12. Net die armste mense van die land het hy laat agterbly om die wingerde en die lande te bewerk.

13. Die Galdeërs het die bronspilare, die waentjies en die bronswaterbak wat by die huis van die Here was, stukkend geslaan en die brons na Babel toe gevat.

14. Hulle het die potte, die skoppe, die skêre en die panne saamgevat, en al die ander bronsgoed wat in die tempeldiens gebruik is.

15. Die hoof van die lyfwag het ook die vuurpanne en die komme vir besprinkeling buitgemaak, alles wat goud of silwer was.

16. Die brons van die twee pilare, die waterbak en die waentjies wat deur Salomo vir die huis van die Here gemaak is, was soveel dat dit nie geweeg kon word nie.

17. Elke pilaar was ag meter, en die bronskapiteel bo-op was een en 'n derde meter hoog. Die rooster met die granate om die kapiteel was heeltemal van brons. Die ander pilaar en sy rooster was dieselfde.

18. Die hoof van die lyfwag het die hoëpriester Seraja, die priester tweede in rang, Sefanja, en die drie drumpelwagte gevange saamgevat.

19. In die stad het hy die offisier gevange geneem wat in bevel was van die soldate. Daar was ook nog vyf van die koning se vertrouelinge in die stad, die sekretaris van die hoof van die leër wat vir die oproep van die burgers verantwoordelik was, en sestig van die burgers.

20. Nebusaradan, die hoof van die lyfwag, het hulle gevange geneem en hulle na die koning van Babel toe in Ribla gevat.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 25