Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 25:4-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. Toe is daar 'n opening in die muur gebreek, en al die soldate het in die nag gevlug deur die poort tussen die twee mure langs die Koningstuin ten spyte daarvan dat daar Galdeërs rondom die stad was. Die soldate het in die rigting van die Jordaanvallei gevlug,

5. maar die Galdese leër het die koning agtervolg en hom ingehaal op die Jerigovlakte. Sy hele leër was toe al uitmekaargejaag, weg van hom af,

6. en hy is gevang en na die koning van Babel toe in Ribla gevat. Hy is verhoor,

7. en toe het hulle sy seuns voor sy oë geslag, sý oë uitgesteek, hom met bronskettings geboei en na Babel toe gevat.

8. In die vyfde maand, op die sewende van die maand, in die negentiende regeringsjaar van koning Nebukadnesar van Babel het Nebusaradan by Jerusalem aangekom. Hy was hoof van die lyfwag en amptenaar van die koning van Babel.

9. Hy het die huis van die Here, die paleis en al die huise in Jerusalem, elke groot gebou, afgebrand.

10. Al die Galdese soldate wat onder sy bevel was, het die muur om Jerusalem afgebreek.

11. Die mense wat in die stad oor was, ook dié wat na die koning van Babel toe oorgeloop het, al wat van die groot stadsbevolking oorgebly het, is gevange weggevoer deur Nebusaradan die hoof van die lyfwag.

12. Net die armste mense van die land het hy laat agterbly om die wingerde en die lande te bewerk.

13. Die Galdeërs het die bronspilare, die waentjies en die bronswaterbak wat by die huis van die Here was, stukkend geslaan en die brons na Babel toe gevat.

14. Hulle het die potte, die skoppe, die skêre en die panne saamgevat, en al die ander bronsgoed wat in die tempeldiens gebruik is.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 25